Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Rus in vrede, Killer’

’n Viervoetige baanbreker in die stryd teen renosterstropery se blaf is nou vir ewig stil.

Killer, ’n 11-jarige Belgiese Malinois, was sedert 2014 verantwoordelik vir die opsporing en inhegtenisneming van meer as 200 stropers in die Krugerwildtuin.

Die heldhaftige hond het in 2016 die PDSA- goue medalje, ’n internasionale prys vir dapper diere, ontvang en op die geleentheid selfs blad (of liewer poot) met prins Harry van Brittanje geskud.

Killer, die 11-jarige Belgian Malinois, in die Krugerwildtuin saam met sy hanteerder. Foto: Susan Scott vir Stroop
Killer met die PDSA- goue medalje wat hy vir sy dapperheid in die stryd teen renosterstropers ontvang het. Foto: Susan Scott vir Stroop

Killer moes in 2018 aftree en ná ’n roemryke loopbaan van ongeveer vier jaar, is hy Vrydag weens gesondheidsredes van kant gemaak.

Sy nalatenskap sal egter in sy sukses voortleef en is ook in die rolprent Stroop, oor renosterstropery in Suid-Afrika, vasgevang.

Bonné de Bod, rolprentvervaardiger en aanbieder in die fliek, sê dit was vir haar ’n voorreg om Killer tydens die verfilming te leer ken.

“Killer was baie beskermd teenoor sy hanteerder. Ek het tydens teenstroper-operasies gereeld saam met hulle in die helikopter gevlieg en ek kan onthou hoe gedissiplineerd hy was. Altyd slaggereed om toe te slaan die oomblik as die helikopter land,” sê De Bod.

Volgens haar het Killer en sy hanteerder, wie se identiteit om veiligheidsredes nie bekend gemaak kan word nie, ’n ongelooflik hegte verhouding gehad.

Killer met die PDSA- goue medalje wat hy vir sy dapperheid in die stryd teen renosterstropers ontvang het. Foto: Susan Scott vir Stroop
Killer en sy hanteerder (heel links) tydens sy ontmoeting met prins Harry. Foto: Susan Scott vir Stroop

“Hy (die hanteerder) het een maal vir my gesê Killer is nie net sy beste vriend nie, maar eerder sy broer.”

Sy onthou ’n dag tydens verfilming het die hanteerder saam met Killer op ’n klip gaan sit en oor die vlaktes van die wildtuin getuur.

“Hy het Killer se poot in syne vasgehou en daardie oomblik het hul hegte verhouding perfek beskryf.”

De Bod sê Killer het een aand in 2016 tydens ’n geveg met stropers ook sy hanteerder se lewe gered.

Bruce Leslie, streeksveldwagter: spesiale operasies in die Krugerwildtuin, sê Killer was beslis ’n baanbreker in die stadium toe renosterstropery ’n hoogtepunt bereik het.

“Killer was een van die eerste drie honde wat in 2014 aan ons geskenk is om in die stryd teen renosterstropery te gebruik. Dit was ’n leerkurwe vir ons almal, maar Killer het dadelik die regte instinkte gehad,” sê Leslie.

Daar was ’n baie hegte band tussen Killer en sy hanteerder. Foto: Susan Scott vir Stroop
Killer geniet die ’n prentjiemooi sonsondergang in die Krugerwildtuin saam met twee veldwagters. Foto: Susan Scott vir Stroop
Killer was altyd baie beskermend teenoor sy hanteerder en het in 2016 sy lewe gered tydens ’n geveg met renosterstropers. Foto: Susan Scott vir Stroop
Bonné de Bod, rolprentvervaardiger en aanbieder van die fliek ‘Stroop’, voer ’n onderhoud met die Krugerwildtuin-veldwagter en Killer, sy getroue hond. Foto: Susan Scott vir Stroop

Killer het in 2018 afgetree. “Dit is vir die honde baie traumaties tussen geweerskote in die veld.”

Leslie sê sy lewensgehalte het onlangs drasties begin afneem.

Die wildtuin se veearts het Killer verlede week ondersoek en ná ’n tweede ondersoek deur ’n onafhanklike veearts het Leslie en sy span die moeilike besluit geneem om Killer van kant te maak.

“Hy is Donderdag veearts toe en is Vrydag met sy hanteerder aan sy sy aan die slaap gemaak.”

Die hanteerder is slegs sjangaan magtig en het deur ’n ander veldwagter, wat as tolk opgetree het, die volgende boodskap aan Netwerk24 gestuur:

“Ek het ’n goeie vriend verloor. Ons het jare lank saamgewerk en Killer het my daaglikse werk baie makliker gemaak. Rus in vrede my vriend. Ek sal vir altyd na jou verlang.”

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Renosterstropery  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.