Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Ryk ekostelsel só bedreig’

Die Environmental Investigating Agency (EIA) is “diep bekommerd” oor die feit dat die regerings van Namibië en Botswana ’n soektog na olie en gas in die opvangsgebied van die Okavango-delta, een van die rykste ekostelsels op aarde, toelaat.

Die EIA het Donderdag in ’n verklaring gesê die twee lande behoort die Kanadese maatskappy wat besig is met die soektog na die fossielbrandstowwe in hierdie sensitiewe ekostelsel te vra om dit onmiddellik te staak.

Die EIA, wat internasionaal betrokke is by ondersoeke na omgewingsmisdade, sê die Okavango-delta is die laaste groot vesting van Afrika se savanne-olifante, renosters, ietermagôs en verskeie ander spesies.

Die EIA wys daarop dat die Wêreldbewaringsunie (IUCN) “net” verlede week verklaar het savanne-olifante is “nader aan uitwissing as wat aanvanklik gemeen is”.

Rachel Mackenna van die EIA sê terwyl die wêreld stadig maar seker sy rug op fossielbrandstowwe draai in ’n poging om te voorkom dat die aarde verder oorverhit, is ReconAfrica, die Kanadese maatskappy, besig met ’n soektog na olie en gas in die Okavango-delta.

Sy waarsku as die maatskap-py olie of gas vind, sal dit heel moontlik tot hidrobreking in een van die wêreld se laaste wild­erfenisgebiede lei.

Sy sê dit is ’n ontstellende voorbeeld van hoe onvolhoubare mynbouprojekte die voortbestaan van ’n hele ekostelsel bedreig. Dit bedreig ook die bestaanswyse en tradisies van plaaslike, inheemse gemeenskappe, sê sy.

“Ons doen ’n beroep op die regerings van Namibië en Botswana om te verseker dat die prospektering gestaak word en dat dié lande hul mense, wild en hul erfenis bo wins sal stel.

“Dit het veral nou met die Covid-19-pandemie duidelik geword dat die mens die inherente waarde van omgewingsbewaring en die stryd teen klimaatsverandering ernstig moet opneem,” lui die EIA se verklaring.

ReconAfrica se boordery vind tans plaas in die habitat van minstens 30 spesies wat op die IUCN se rooidatalys verskyn. Onder hierdie wild is swartrenosters, wat kritiek bedreig is, en wildehonde, asook ietermagôs wat bedreig is.

Die EIA is ook bekommerd dat plaaslike gemeenskappe beheer oor hul grond en water gaan verloor.

Dit het ook onder die EIA se aandag gekom dat 600 produktiewe plase in die gebied val waarvoor ReconAfrica ’n prospekteerpermit het.

Die EIA twyfel voorts of plaaslike inwoners oor dié maatskappy se doelwitte ingelig is.

“85% van die mense wat in die gebied woon waar ReconAfrica bedrywig is, het min of geen toegang tot die internet nie.

“Covid-19 het mense ingeperk en hulle kon dus geen vergaderings met ReconAfrica en die regering­ van Namibië bywoon nie.

“Dit is onduidelik of hul stemme gehoor is.”

ReconAfrica het getwiet dié maatskappy het “reeds deel geword van die gemeenskap in die noorde van Namibië”.

Volgens die maatskappy verwys die inwoners van die gebied na aktiviste wat teen sy werksaamhede gekant is, as “doemprofete”.

Saving Okavango’s Unique Life­ (Soul) het Pohamba Shifeta, Namibiese minister van omgewingsake, gister gekritiseer omdat hy ’n omgewingsimpakverslag wat 1 000 bladsye beslaan, twee weke gelede aan die inwoners van die Kavango gestuur het en van hulle verwag om teen vandag daarop te reageer.

“Dit is skandelik,” sê Soul in ’n verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.