Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
SA grootste ‘steenkoolslaaf’ - verslag

“Die mens is in ’n oorlog met die planeet gewikkel. Nóú slaan die planeet terug.”

Só het António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), Sondag by die eerste dag van die klimaatberaad (COP25) in Madrid, Spanje, gesê.

Guterres, wat die openingsrede gelewer het, het gesê die wêreld ervaar ’n klimaatnoodtoestand en tog word daar steeds in verskeie wêrelddele steenkoolkragstasies in groot getalle gebou. “Ons sal van ons verslawing aan steenkool genees moet word of al die energie wat ons nou gebruik om die klimaatkrisis te stop, sal vergeefs wees.”

“Ek verwag híér van wêreldleiers groter ambisie om van steenkool (en ander fossielbrandstowwe) weg te breek. Leiers van alle lande moet verantwoordelikheid neem en verantwoordbaar wees. Enigiets minder as dít, sal verraad teenoor die hele mensdom en toekomstige geslagte beteken.”

António Guterres
António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Foto: Getty Images

Hy het gesê om die klimaatkrisis die hoof te bied, sal die mensdom nóú vinnige en ingrypende veranderings moet maak aan die manier waarop hy krag opwek, hoe hy stede bou, hoe hy beweeg en hoe die wêreld gevoed word.

“Die onlangse bevindings in die verslag van die Wêreld Metereologiese Organisasie (WMO), State of the Climate Report, is duidelik: die afgelope vyf jaar was die warmste sedert rekordhouding in die 1800’s begin het, die vlak van die see is die hoogste in die menslike geskiedenis, yskappe smelt en die oseaan versuur.

“Daar is ’n ernstige aanslag op biodiversiteit op see en op land. Droogtes en ander natuurrampe kom meer dikwels voor, is dodeliker as ooit en dit gaan met lewensverlies en groot ekonomiese koste gepaard.

“Die omdraaikans raak al hoe skraler. Ons oorlog teen die natuur moet stop. En ons weet dit is moontlik.”

Hy het gesê die wetenskaplike gemeenskap is baie duidelik daaroor dat die aarde se temperatuur nie met meer as 1,5 °C mag styg nie en dat die wêreld teen 2050 koolstofneutraal moet wees.

Om hierdie doelwitte te bereik, moet die uitlaatgasse, gemeet aan die hoeveelheid wat in 2010 in die atmosfeer was, teen 2030 met 45% afneem.

Dit gebeur egter nie en skiet sedertdien die hoogte in. Guterres het dit as “skokkend” beskryf.

Hy het daarop gewys die wêreld gaan waarskynlik in die volgende dekade 120% meer fossielbrandstowwe produseer. Die syfer vir steenkoolproduksie dui op ’n styging van 280%.

Daar is ’n gebrek aan ’n politieke wil, maar terselfdertyd is die burgerlike gemeenskap besig om wakker te word en druk uit te oefen op instellings om beleggings in fossielbrandstowwe te onttrek, het hy gesê.

“Ons móét eenvoudig ophou om steenkool uit die aarde op te grawe én in die aarde vir olie en gas te boor.”

Volgens hom het sewe van die G20-lande onlangs belowe om teen 2050 koolstofneutraal te wees.

“Maar ons sien steeds dat die grootste besoedelaars geen verantwoordelikheid vir hul handelinge jeens die klimaatkrisis neem nie.

“Ons is in ’n diep gat en ons grawe steeds dieper. Ons gaan later só diep in hierdie gat wees, dat ons nie daaruit sal kan kom nie,” het Guterres gesê.

Guterres het onderneem dat klimaatsverandering voortaan bo-aan die lys van die VN se prioriteite sal wees. Hy het gesê gebeure in die volgende 12 maande sal deurslaggewend met betrekking tot die klimaatkrisis wees.

Volgens die Brown to Green Report is Suid-Afrika van al die G20-lande die grootste slaaf van steenkool.

Die Universiteit van Kaapstad het Maandag in ’n verklaring gesê die verslag het ook bevind Suid-Afrika se kweekhuisgasse per kapita is van die hoogste onder die G20-lande. 90% van Suid-Afrika se elektrisiteit word deur steenkool opgewek. Nét 5% word deur hernieubare bronne opgewek.

In die verslag word dit benadruk dat Suid-Afrika nie sy verbintenis onder die Parys-ooreenkoms sal kan nakom as hy op die huidige trant met steenkoolmynbou voortgaan nie.

Volgens die verslag bestaan 82% van die G20 lande se energiemengsel steeds uit steenkool. Min van hierdie lande het tasbare planne om steenkool uit te faseer, sê die verslag.

Die Brown and Green Report is die wêreld se mees omvattende jaarlikse oorsig oor die G20-lande se klimaataksie.


Volgens die verslag bestaan 82% van die G20 lande se energiemengsel steeds uit steenkool. Min van hierdie lande het tasbare planne om steenkool uit te faseer, sê die verslag.

Die Brown and Green Report is die wêreld se mees omvattende jaarlikse oorsig oor die G20-lande se klimaataksie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.