Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘SA moet kennis neem van vergrype teen omgewing’

22 jaar nadat die eerste demokratiese regering in Suid-Afrika aan die bewind gekom het, beleef die inwoners van Mpumalanga van die grootste omgewingsvergrype in die geskiedenis van die land weens die baie steenkoolmyne en die verbranding van steenkool.

Só sê die omgewingsorganisasie groundWork in sy jongste verslag, “The Destruction of the Highveld, Digging Coal”.

Die samestellers van dié lywige verslag, wat Dinsdagaand bekend gestel is, sê hul oogmerk met hul navorsing was om vas te stel wat die stand van omgewingsgeregtigheid in Suid-Afrika is. Hulle het die stand van die omgewing en mense se lewensgehalte in Mpumalanga as ’n gevallestudie gebruik.

Volgens Victor Munnik, een van die skrywers van die verslag, is die omgewingsongeregtigheid waaraan die inwoners van Mpumalanga blootgestel word iets wat aan die groot klok gehang moet word. Volgens hom het dit tyd geword dat die hele Suid-Afrikaanse bevolking kennis neem van die massiewe omgewingsongeregtigheid waaraan die sowat 5 miljoen inwoners van Mpumalanga se Hoëveld blootgestel word.

Wat ons hier tydens ons navorsing gesien het, is die brutaliteit waarmee mense van hul grond en water vervreem word.

“Wat ons hier tydens ons navorsing gesien het, is die brutaliteit waarmee mense van hul grond en water vervreem word. Die vernietiging is op ’n massiewe skaal,” sê Munnik.

Luidens die verslag word mense se grond as’t ware onder hulle uitgemyn, hulle asem elke dag erg besoedelde lug in, en hul waterbronne is, buiten vir swaar metale, ook met rioolvuil besoedel. Hulle is armer as ooit en word siek weens die omgewinsgplundering.

Munnik meen almal in Suid-Afrika moet betrokke raak by die beskerming van die natuur, wat in ’n groot mate reeds in Mpumalanga vernietig is. Hy sê die bietjie van die natuur wat nog in Suid-Afrika oor is, moet met “alles wat ons het” beskerm word.

“Mense moet hulle afvra wie gee die regering, en veral die departement van minerale bronne en mynbase, die reg om ons natuur so te plunder.”

Die skrywers wys daarop dat baie van die steenkool wat in Mpumalanga gemyn word, uitgevoer word. Net ’n gedeelte daarvan word deur Eskom verbrand. Die geld vir die steenkool wat uitgevoer word, beland net in ’n paar mense se sakke.

Munnik meen die tyd het nou aangebreek dat ’n “optelsom” gemaak word van die skade wat in Mpumalanga aangerig is.

Mense en die regering moet die verband begin trek tussen klimaatsverandering, oopgroefsteenkoolmynbou en die verbranding van dié fossielbrandstof. Volgens Munnik is dit asof daar ’n kortsluiting is. Suid-Afrika sal so gou moontlik na hernubare energiebronne moet oorskakel.

Volgens hom en David Hallows, medeskrywer van die verslag, is die son besig om vir steenkool te sak. Steenkoolbronne is besig om skaars te raak én oor die hele wêreld is daar druk op regerings om van dié vuil energiebron af te sien, sê Munnik.

“Diegene wat nou hier myn, is soos aasdiere wat die laaste stukkies vleis van ’n karkas probeer afvreet.”

Wat die verslag onder meer uitwys:

* Die vernietiging van sensitiewe omgewings, soos dié in Mpumalanga, begin reeds by prospektering omdat kwesbare waterbronne raakgeboor word;

* Bogrond bevat lewe. Tot 1 000 spesies ongewerwelde diere woon in vrugbare bogrond. Sodra bogrond vir oopgroefmynbou verwyder word, gaan alles binne-in dood.

* Die omvang van die suurmynwater wat weens steenkoolmynbou in Mpumalanga veroorsaak word, is byna op dieselfde skaal as dié van die goudmyne aan die Witwatersrand.

* In 2014 het Suid-Afrika 260 miljoen ton steenkool geproduseer. Hiervan is 119 miljoen ton deur Eskom verbrand en 71 miljoen ton is uitgevoer.

* Die twee grootste oopgroefsteenkoolmyne in die land is Anglo Coal se Vaal Colliery naby Vereeniging en Exxaro se Grootegelukmyn by Lephalale.

* Die verbranding van steenkool stel ’n hoë konsentrasie van onder meer bensien, kwik en metaan vry.

* Die hele opvangsgebied van die Olifantsrivier is uitgemyn.

* Die vernietiging van grond in Mpumalanga kan in die nabye toekoms ’n voedselkrisis vir die land skep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.