Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
SA renosters in Botswana gestroop

Botswana gaan sy paar honderd renosters wat ’n paar jaar gelede vir hul veiligheid na Chief’s Island­ in die Okavango-delta geskuif is, onthoring nadat 38 in die afgelope 18 maande gestroop is.

Onder dié renosters is 87 wat Suid-Afrika sedert 2014 aan Bo­tswana gegee het omdat dié land, en veral Chief’s Island, as ’n veilige hawe vir hulle beskou is.

TK Khama, voormalige minister van omgewingsake, natuurlike hulpbronne en toerisme van Botswana, het aan Beeld gesê­ sy land het renosters in die steek gelaat.

Onthoring-prosedures

Philda Kereng, huidige minister, het onlangs aangekondig die land gaan sy renosters “binnekort” begin onthoring.

Khama sê hy het in 2014 as minister die memorandum van verstandhouding met wyle Edna Molewa, toe Suid-Afrika se minister van omgewingsake, onderteken ingevolge waarvan Bo­tswana die renosters sou bewaar. Hy sê hy is “skaam en teleurgesteld” dat Botswana die diere nie kon beskerm nie.

Bewaringsorganisasies is erg krities oor die besluit om die renosters te onthoring en hulle is dit ook eens dat dit toerisme sal skade berokken.

Kritiek is veral uitgespreek teen pres. Mokgweetsi Masisi, wat in April 2018 besluit het om die teenstropingseenhede te ontwapen. Dit was kort ná sy inhuldiging.

Ian Khama, voormalige staatshoof, het die lede van teenstropingseenhede daarenteen aangemoedig om stropers dood te skiet.

Stropers voor die voet geskiet

TK, sy broer, sê dit was nie beleid om stropers voor die voet te skiet nie, maar dit was “algemeen aanvaarde praktyk”.

Bewaringsorganisasies, wat verkies om anoniem te bly omdat Masisi glo gereeld teen hulle te velde trek, sê hulle vind dit uiters vreemd dat renosters op Chief’s Island, waar daar ’n groot weermagkamp is, gestroop word. ’n Renosterkarkas is onlangs sowat 100 m van die kamp gekry. Die dier is blykbaar met ’n .375-jaggeweer doodgeskiet.

Hilton Walker, woordvoerder van Great Planes Conservation (GPC), sê die destydse besluit om 100 renosters aan Bo­tswana te skenk om hulle veilig te hou, was ’n gesamentlike inisiatief van GPC en die safari-onderneming AndBeyond.

Die situasie in SA

Barbara Greecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het eergister gesê 594 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop, waarvan 327 in die Krugerwildtuin.

In 2018 is 769 renosters landwyd gestroop.

Die afname is volgens Greecy te danke aan die regering -van die wetstoepassers tot die veldwagters- se toegewydheid.

Volgens Creecy was daar verlede jaar 2 014 gevalle waar stropers die Krugerwildtuin binnegekom of kontak met veldwagters gehad het. 133 renosters in provinsiale parke in KwaZulu-Natal doodgemaak.

31 olifante is verlede jaar in die land gestroop, waarvan 30 in die Krugerwildtuin en een in ’n provinsiale park in Mpumalanga.

87 renosters is sedert 2014 na Botswana gebring, maar die hervestiging is gestaak weens die droogte in die land en stropery.

Hy sê 39 renosterkalwers is sedert 2014 in Botswana gebore.

Masisi het verlede week op ’n mediakonferensie uitgevaar teen “klein groepe organisasies” wat hom kwalik neem oor sy beleidsverandering en dat dit tot die toename in stropery gelei het.

Hy sê dit is kommerwekkend dat die stropers die land vanuit die noordweste inkom en die stropery in die Okavango-delta, die grootste toeristeattraksie in die land, plaasvind.

Die meeste stropers is glo Zambiërs wat die Okavango vanuit Namibië binnekom.


Meer oor:  Botswana  |  Stroping  |  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.