Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Seekat-vissery in Valsbaai kry skuld vir walvisvrektes

WAARSKUWING: Die berig bevat grafiese foto’s van ’n walviskarkas wat na die kus gesleep is.

Die vissery van seekat in Valsbaai word die skuld gegee vir ’n Bryde-walviskalf wat Maandag naby Simonstad in toue verstrengel geraak en gevrek het.

Intussen het die IVP en inwoners ’n beroep gedoen dat die lisensies vir seekatvissery in Valsbaai opgeskort word en ’n moratorium op lokvalle ingestel word totdat die omgewingsimpak daarvan vasgestel kan word.

Die navorsingsgroep Sea Search in Kaapstad het Dinsdag bevestig dat die walviskalf in die toue van ’n visfuik vir seekatte verstrengel geraak het nadat sy lede behelp het om die karkas te ondersoek en monsters te neem.

Sea Search is ’n groep wetenskaplikes wat op navorsing en die bewaring van seesoogdiere in Suid-Afrika en Namibië fokus.

Dit is in 2014 deur dr. Simon Elwen en dr. Tess Gidley gestig en is in Muizenberg en Walvisbaai werksaam.

Volgens Sea Search is daar minstens 12 walvisse in die laaste paar jaar wat in fuike verstrengel geraak het, waarvan agt gevrek het. Dit is egter nie bekend of net fuike vir seekatte betrokke was nie en dit nie fuike vir kreef ook ingesluit het nie.

“Ons moedig verdere navorsing oor die uitwerking op die bevolking en meer duidelikheid oor die status van dié vissery sterk aan.”

Die karkas van ’n Bryde-walviskalf wat Maandag by Millerspunt tussen Simonstad en Kaappunt in visvangtoue verstrengel geraak het. Die groot ronde gedeelte voor is waar die walvis se tong glo weens ontbinding opgeswel het.Foto: Sea Change Project

Die Bryde-walviskalf is glo deel van ’n klein deel van die bevolking wat grootliks naby die kus bly en nie migreer soos ander walvisse nie.

Dit word as ’n kwesbare groep beskryf met waarskynlik minder as 1 000 walvisse wat teen 2016 oorgebly het.

Elwen skryf dat daar nie ’n akkurate skatting van dié walvisbevolking is nie en ’n opname in 1983 het dit op rondom 583 walvisse beraam, terwyl meer onlangse navorsing met fotografie die skatting min of meer bevestig het.

Die Suid-Afrikaanse walvisontstrengelingsnetwerk (SAWDN) het Dinsdag ook bevestig dat hy die verstrengeling van die walviskalf by Millerspunt tussen Simonstad en Kaappunt ondersoek om vas te stel of dit in visvangtoue of rommel vasgesit het.

Lees meer: Oorsaak van verstrengeling van walvisse ondersoek

Die karkas van ’n Bryde-walviskalf is Maandag na die kus gesleep naby Simonstad nadat dit in visvangtoue verstrengel geraak het. Foto: Sea Change Project

Die karkas is Maandag na die kus gesleep en die SAWDN het Saterdagoggend ook ’n bultrugwalviskalf in dieselfde gebied losgesny uit visvangtoue waarin dit verstrengel geraak het.

Narend Singh, IVP-hoofsweep en woordvoerder oor die omgewing, het in ’n verklaring ’n beroep op die regering gedoen om alle visvanglisensies vir seekat in Valsbaai onmiddellik op te skort en ’n dringende omgewingstudie doen oor die uitwerking van die afgelope 15 jaar se seekatvissery.

“Dit is ook ’n raaisel waarom ’n kwota van 50 tot 100 ton vangste vir seekat gestel is met absoluut geen wetenskaplike kennis of navorsing oor die werklike seekatbevolking in die baai nie.”

Die opgeswelde tong van ’n Bryde-walviskalf wat in visvangtoue naby Simonstad, Kaapstad verstrengel geraak en gevrek het.Foto: Sea Change Project
Visvangtoue, glo van ’n fuik vir seekatte, het sigbare beserings gelaat op die karkas van ’n Bryde-walviskalf wat naby Simonstad gevrek het en Maandag na die kus gesleep is. Foto: Sea Change Project

Volgens Singh moes die lisensie om seekat aan Valsbaai se kus te vang, nooit toegestaan geword het nie.

“Die regering het basies ’n ‘eksperimentele lisensie’ aan ’n klein vissery 15 jaar gelede toegestaan. Dit is steeds van krag en verantwoordelik vir sowat 40 ton seekat wat jaarliks in Valsbaai gevang word en aan luukse restaurante in Asië verkoop word.”

Singh het ook daarop gewys dat seekat ’n belangrike voedselbron vir verskeie groot seesoogdiere in die baai is en ’n ernstige uitwerking op die voedselketting kan hê as dit oorbevis word.

’n Aanlyn versoekskrif aan die departement van omgewingsake, bosbou en visserye is Woensdag ook deur ’n inwoner van Simonstad geskep en is teen 17:00 al deur 2 341 mense geteken.

Die departement word versoek om ’n moratorium op alle fuike vir seekatte in Valsbaai in te stel totdat ’n standaardpraktyk vir dié vissery saamgestel word en die grootte van die seekatbevolking vasgestel word.

Daar word geëis dat fuike in die see 24 uur gemoniteer word en dit sigbaarder gemaak word om die gevaar van verstrengeling te verminder.

Sigbare beserings op die karkas van ’n Bryde-walvis wat in visvangtoue verstrengel geraak het.Foto: Sea Change Project
’n Bryde-walviskalf is Maandag na die kus gesleep ná dit in visvangtoue naby Simonstad, Kaapstad verstrengel geraak het.Foto: Sea Change Project
Beserings aan die stert van die karkas van ’n Bryde-walviskalf wat in visvangtoue verstrengel geraak het.Foto: Sea Change Project
Meer oor:  Simonstad  |  Valsbaai  |  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.