Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Seldsame rob maak haar tuis op Wildernis-strand

’n Krapvreterrob van die suidelike Antarktiese gebied wat haar op die strand by Wildernis in die Suid-Kaap tuisgemaak het, is na die Bayworld-oseanarium in Gqeberha (Port Elizabeth) geneem vir rehabilitasie.

“Dit is ’n baie rare rob in Suid-Afrika,” sê Tersia Marais, stigter van Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) in Mosselbaai. Dié organisasie beywer hom vir die red en bewaring van mariene soogdiere en seeskilpaaie.

Hulle is op 7 Mei in kennis gestel van die ongewone besoeker op die strand.

Die krapvreterrob bak in die son op Wildernis se strand. Foto: Smart

’n Vrywilliger het foto’s van ’n bleekwit rob geneem en na dr. Greg Hofmeyr, kurator van mariene soogdiere by Bayworld, gestuur. Hy het dadelik laat weet dit is ’n krapvreterrob van die suidelike Antarktiese gebied.

Die robbe kom nie in Suid-Afrikaanse kuswaters voor nie en sou nie hier kon oorleef nie. Smart en Hofmeyr het toe aan die werk gespring om haar na veiligheid te bring.

Vrywilligers van Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) hou ’n ogie oor die krapvreterrob op Wildernis se strand. Foto: Smart

Die gebied waarin die rob (wat intussen Pearl gedoop is) was, is afgesper. Vrywilligers het by haar gewaak totdat Hofmeyr omstreeks 17:00 daar aangekom het om haar na Bayworld te neem.

Dit het agt mense glo 12 minute geneem om die rob in ’n spesiale krat te kry, maar Hofmeyr-hulle was omstreeks 22:30 terug by Bayworld.

Die rob was ondergewig en sal ’n paar maande by Bayworld deurbring vir rehabilitasie. Sodra sy sterker en gesond is, sal sy vrygelaat word.

Die krapvreterrob 'rus' op die strand by Wildernis. Foto: Smart

Volgens die organisasie eet die robbe hoofsaaklik kril (planktonkrefies) en nog net 32 van hulle is in 65 jaar langs die Suid-Afrikaanse kusgebied gesien.

* Volgens Bayworld se webtuiste is twee krapvreterrobbe wat vroeër vanjaar onderskeidelik aan die KwaZulu-Natalse en Oos-Kaapse kus uitgespoel het, in Februarie vrygelaat. Hulle is by onderskeidelik Ushaka Marine World in Durban en by Bayworld behandel. Die rob van Ushaka Marine World is toe na Gqeberha gevlieg sodat die robbe saam vrygelaat kon word.

Die krapvreterrob in die afgesperde gebied op Wildernis se strand, waar sy dopgehou is totdat hulp opgedaag het. Foto: Smart
Meer oor:  Wildernis  |  Strand  |  Rehabilitasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.