Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Sesde gestroopte renoster in Noord-Kaap
Die Noord-Kaap se sesde gestroopte renoster in twee maande is Saterdagnag op die Wintershoek-wildplaas geskiet en sy horing afgesny. Werkers het Sondagoggend die witrenosterbul gevind. Foto: Charné Kemp

Kimberley. – Die sesde gestroopte renoster in die Noord-Kaap is Sondagoggend op die Wintershoek-wildplaas sowat 70 km suid van Kimberley deur werkers gevind.
Die bul is vermoedelik Saterdagaand geskiet en sy horings verwyder. Die polisie en amptenare van die departement natuurbewaring en omgewingsake het die toneel ondersoek.

Wiaan van der Linde, president van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) en mede-eienaar van Wintershoek, sê hy is nie verbaas nie, maar baie kwaad.

“Ek is kwaad omdat daar nog niks vermag is sedert in 2008 met die stroop van renosters begin is nie. Die getalle het verskriklike afmetings aangeneem.”

Sy witrenosterbul is vermoedelik met een skoot in sy regtersy geskiet. Die dier het etlike meters gestrompel voordat hy geval het.

Sy horing is vermoedelik met ’n mes afgesny.

Volgens Van der Linde was sy renosters gewoond aan mense. Die plek waar die dier geskiet is, is nie ver van die gastekamers en pakhuise op die plaas nie.

Lt. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, het die voorval bevestig.

“Dit is die sesde voorval sedert April. Vier renosters is naby Kimberley geskiet en twee se horings is verwyder. ’n Vyfde een is naby Vanderkloof geskiet en van sy horings gestroop.”

Van der Linde sê hy is kwaad, want hulle kry nie oplossings vir die stroping nie. Jaarliks word meer en meer renosters gestroop sonder dat dit daadwerklik stopgesit word.

Gaan ons wag totdat al die renosters uitgeroei is voordat ons wakkerskrik?

“Ek is gatvol, teleurgesteld en gefrustreerd.

“Gaan ons wag totdat al die renosters uitgeroei is voordat ons wakkerskrik?

“Die horings wat landuit gevat word, is miljarde rand werd. Misdadigers neem dit landuit sonder dat belasting betaal word. Dit is alles ten koste van ons land se mense.

“Drie jaar nadat die eerste renoster in die Noord-Kaap gestroop is, het die polisie nog nie die sake opgelos nie.

“Tog weet ons te min om vingers te wys. Ons maak aantygings omdat ons nie antwoorde kry nie.”

Van der Linde sê hy en ander private wildeienaars is bereid om toerusting en enige ander hulp aan die departement van natuurbewaring en omgewingsake te bied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.