Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Shell kry pak in hof oor klimaatsverandering
Donald Pols, direkteur van Milieudefensie, vier Woensdag die hofuitspraak teen Shell in Den Haag, Nederland. Foto: AP

Vir die eerste keer in die geskiedenis het ’n hof ’n petroleummaatskappy vir sy bydrae tot gevaarlike klimaatsverandering verantwoordelik gehou.

Die hof in Den Haag, Nederland, het Royal Dutch Shell (RDS) Woensdag beveel om sy uitlaatgasse “onmiddellik” te begin verminder. Teen 2030 moet dit, gemeet teen die hoeveelheid gifgasse wat die maatskappy in 2019 in die atmosfeer vrygelaat het, met 45% afneem.

Luidens die uitspraak, wat eenparig deur drie regters gelewer is, beteken dit dat RDS, die moedermaatskappy van meer as 1 000 maatskappye wat sake regoor die wêreld doen, nie in die toekoms betrokke sal kan raak by enige eksplorasie na olie, gas of steenkool nie.

Die bewaringsorganisasie, Milieudefensie, ’n filiaal van Friends of the Earth in Nederland, wat saam met Greenpeace Nederland en nog vyf bewaringsorganisasies die saak teen RDS gewen het, het Woensdag laatmiddag gesê dié uitspraak hou “massiewe gevolge vir alle groot besoedelaars in die wêreld in”.

Die sewe bewaringsorganisasies het 17 000 klimaataktiviste in die saak teen Shell verteenwoordig.

Donald Pols, direkteur van Milieudefensie, het gesê dié uitspraak is ’n “monumentale oorwinning” vir die planeet en vir toekomstige geslagte. Hy het dit beskryf as ’n groot stap vir die planeet om voort te bestaan en lewe op aarde moontlik te maak.

Harry Brekelmans, direkteur van projekte en tegnologie by RDS, het gesê dié maatskappy is teleurgesteld in die uitspraak en oorweeg dit om daarteen te appelleer.

Hy het gesê die maatskappy het reeds “miljarde dollar” daaraan bestee om na klimaatvriendelike tegnologie oor te skakel. Volgens hom sal dit stelselmatig gedoen moet word totdat die maatskappy teen 2050 ’n koolstofneutrale bedryf het.

Brekelmans het wel erken “dringende aksie” is nodig om klimaatsverandering aan te pak. Hy het bygevoeg een maatskappy kan dit nie alleen doen nie.

RDS het in hofstukke aangevoer “die speelveld gaan nou ongelyk wees” en dat dié maatskappy in die nabye toekoms ’n “onregverdige agterstand” gaan hê, terwyl ander energiemaatskappye sake soos gewoonlik gaan doen.

Selfs as regeringsleiers niks doen nie, of selfs weinig doen, het maatskappye die verantwoordelikheid om menseregte te respekteer.

Larisa Alwin, die voorsittende regter, het in haar uitspraak gesê maatskappye het ’n onafhanklike verantwoordelikheid, ongeag dit wat regeringsleiers doen.

“Selfs as regeringsleiers niks doen nie, of selfs weinig doen, het maatskappye die verantwoordelikheid om menseregte te respekteer,” het sy gesê.

Die Global Strategic Communications Council (GSCC) in Suid-Afrika het Donderdag gesê dié uitspraak kan verskeie soortgelyke hofsake teen energiemaatskappye tot gevolg hê.

“Dit kan ook ’n impak hê op die finansiering en lewensvatbaarheid van Suid-Afrika se planne om in gas te belê.”

Volgens Catharina Robbertze, woordvoerder van GSCC, kan die risiko’s en kostes wat met beleggings in aardgasse gepaard gaan al hoe groter word met sulke hofuitsprake.

Die departement van minerale bronne en energie het Woensdag juis nuwe wetgewing voorgelê wat daarop gemik is om die gasbedryf in Suid-Afrika te ontwikkel en te bevorder. Sy het daarop gewys dat die regering besig is om allerlei planne te maak om beleggings in Suid-Afrika se petroleum- en gasbedryf te bevorder.

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Shell  |  Hof  |  Uitlaatgasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.