Die tropiese sikloon Eloise het Saterdag in die vroeë oggendure by Beira in Mosambiek aan land gekom.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Eloise die kus van Mosambiek met stormsterkwinde met ’n windspoed van 160 km/h getref.
“Daar word verwag dat die storm nou oor die binneland na ’n laagdrukstelsel sal verswak en teen Sondag oor dele van Limpopo sal inbeweeg.”
Die weerdiens sê neerslae kan reeds vandag in Limpopo en Mpumalanga verwag word.
Eloise is teen 10:00 Saterdagoggend ook van ’n tropiese sikloon na ’n matige tropiese storm afgradeer. Die windspoed was toe sowat 83 km/u.
“Dit beweeg steeds teen ’n wes-suidwestelike rigting.”
Eloise het Vrydag reeds skade in Beira veroorsaak nog voor die storm in Mosambiek aan wal gekom het.
Swaar reënval het tot oorstromings in die stad gelei.
’n Noodoperasie om die inwoners van Mosambiek by te staan word nou deur die organisasie Medi Response van Johannesburg onderneem.
Hadley Shapiro, direkteur van Medi Response, sê hulle het reeds vroeg Saterdagoggend ontstellende foto’s van die situasie in Mosambiek ontvang en maak nou gereed om die land met nooddienste by te staan. Die organisasie sal later ’n verklaring uitreik oor hoe hy Mosambiek sal bystaan.

Die tropiese sikloon Eloise het Beira in Mosambiek vroeg Saterdagoggend getref. Eloise het grootskaalse skade aan die stad aangerig en talle oorstromings het voorgekom. Foto: Hugo Pienaar Storm Report SA
Intussen het die SAWD ’n geel vlak-1 waarskuwing vir die oostelike binneland uitgereik waar hewige donderbuie met suidwestelike wind, reën, rukwinde en buitegewone weerlig skade kan aanrig aan informele nedersettings, voertuie en infrastruktuur. Die weerdiens sê tydelike kragonderbrekings kan ook hier verwag word.
Die weerstoestande sal na verwagting na die kuslyn van KwaZulu-Natal uitbrei.
Die weerdiens het ook ’n oranje vlak-9 waarskuwing vir die Laeveld van Mpumalanga, die noorde van Limpopo en die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal vir Sondag uitgereik.

Die tropiese sikloon Eloise het Beira in Mosambiek vroeg Saterdagoggend getref. Eloise het grootskaalse skade aan die stad aangerig en talle oorstromings het hier voorgekom.Foto: Hugo Pienaar Storm Report SA
Die SAWD sê inwoners in die gebiede kan ontwrigtende reën verwag wat oorstromings en vloede kan veroorsaak.
Oorstromings word ook in die omgewing van die King Cetshwayo en Zoeloeland-distrikte verwag.
Die weerdiens sê skadelike winde met ’n windspoed wat sal wissel van tussen 50 km/u en 60 km/u kan lewensgevaarlik wees aangesien sulke sterk winde bome kan omwaai. Dié winde kan ook puin van beskadigde geboue en infrastruktuur deur die lug laat vlieg.

Die tropiese sikloon Eloise het Beira in Mosambiek vroeg Saterdagoggend getref. Eloise het grootskaalse skade aan die stad aangerig en talle oorstromings het hier voorgekom.Foto: Hugo Pienaar Storm Report SA