Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Sikloon: Gift of the Givers gaan help in Mosambiek
Die sikloon Idai het Donderdagaand die suidoostelike kus van Mosambiek bereik en groot skade aangerig in onder meer die stad Beira. Foto: @clubOmozambique

Die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers sê hy het toestemming gekry om noodleniging in Mosambiek te lewer nadat die tropiese sikloon Idai groot skade in die suidooste van die land aangerig het.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het Vrydag gesê die organisasie wil eers nadere besonderhede kry oor die skade voor sy spanne vertrek.

“Hulle moet vir ons sê of mense vasgekeer is, hoeveel en in watter gebiede, sowel as watter hulp hulle nodig het.”

Gift of the Givers het Donderdag gesê hy is op ’n hoë gereedheidsgrondslag as gevolg van die oorstromings in Malawi en Mosambiek, waar duisende wonings vernietig en meer as 100 mense dood is voordat die sikloon Beira bereik het.

Volgens Sooliman is daar geen sein in Beira, een van Mosambiek se grootste stede, wat Donderdagaand deur die sikloon getref is nie.

“Die weer van Maputo af is so sleg dat dit tyd sal neem vir die rampbestuurdienste om daar aan te kom en die toestande daar eerstehands te aanskou.”

Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers.Foto: Denzil Maregele

Sooliman sê daar word nou gewag op terugvoer van die Mosambiekse rampbestuurdienste oor die skade en behoeftes in Beira en omliggende dele.

Intussen het Gift of the Givers noodleniging aan 1 100 families verskaf in sewe uit die 11 distrikte in die suide van Malawi wat deur oorstromings ná stormreën geruk is.

Dit sluit in komberse, muskietnette, kombuisgerei en pakkies met mieliemeel, suiker, sout, melk, rys, tee, boontjies, wasgoed- en badseep.

Die organisasie werk saam met die Malawiese weermag, die Rooi Kruis en rampbestuurdienste.

Volgens Gift of the Givers is 56 mense in Malawi dood en is 750 000 mense weens die oorstromings haweloos.

Gift of the Givers se span vir Mosambiek sluit in 70 noodwerkers, paramedici en dokters met 22 viertrekvoertuie, tien kragbote en vier waterponies, 14 opblaasbote en ’n vliegtuig wat agt mense kan vervoer.

“Dit is ons grootste reddingsoperasie in die water in 26 jaar. Ons het Mosambiek ook in 2000, 2001, 2006 en 2013 bygestaan.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal die sikloon na verwagting teen Vrydagaand die ooste van Zimbabwe bereik namate dit verswak. Aansienlike reënval van meer as 100 mm oor 24 uur word Saterdag oor die oostelike en sentrale dele van Zimbabwe en Sentraal-Mosambiek verwag.

Stortreën van 100 mm tot 350 mm kan tot erge, wydverspreide oorstromings in die Sofala- en Manica- provinsies in Mosambiek lei en Vrydagaand na Manicaland, Oos-Mashonaland en Masvingo in Zimbabwe versprei.

Die sikloon Idai sal na verwagting Sondag verder verswak, maar steeds reënval van meer as 100 mm in Mosambiek, Zimbabwe en moontlik die suidweste van Zambië meebring, sowel as in die suide van Malawi, wat nog nie van die afgelope week se oorstromings herstel het nie.

Meer oor:  Sikloon  |  Mosambiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.