Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Sikloon Kenneth het reeds 38 lewens in Mosambiek geëis

Sikloon Kenneth, wat Mosambiek skaars ’n maand ná die dodelike sikloon Idai getref het, het volgens amptelike syfers reeds 38 lewens in dié land geëis.

Volgens CNN is nóg vier mense dood toe die tropiese sikloon die Comoro-eilande onderweg na Mosambiek getref het.

Volgens AccuWeather is daar hewige vloede in die gebied, ondanks die feit dat die stormsterkte winde reeds afgeneem het.

Kristina Pydynowski, senior meteoroloog by AccuWeather, sê minstens 575 mm reën het oor die naweek op Pemba, provinsiale hoofstad van die Cabo Delgado-provinsie in die noorde van die land, uitgesak.

Felix Dlangamandla, ’n Netwerk24-fotograaf, was onlangs in Mosambiek om die omvang van sikloon Idai se verwoesting op kamera vas te vang.Foto: Felix Dlangamandla

Kenneth is die sterkste storm wat die gebied tref sedert moderne rekordhouding 60 jaar gelede begin is, en die tweede tropiese storm in vyf weke om die suidoostelike deel van Afrika te tref.

Sy voorganger, Idai, het verlede maand tot die dood van minstens 750 mense in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi gelei, duisende mense ontwortel en na raming $1 miljard se skade aangerig. Dit is gelykstaande aan sowat 10% van Mosambiek se bruto binnelandse produk (BBP).

The Guardian berig verdere hewige reënval word vir die volgende paar dae in Mosambiek verwag.

Volgens die Mosambiekse owerhede is die gepaardgaande vloede “kritiek” in dele van die provinsie – insluitend Ibo, Macomia en Quissanga. Verskeie geboue is reeds tot niet en meeste paaie is heeltemal onbegaanbaar, terwyl die swaar reënval sein belemmer en dit moeilik maak om afgeleë gebiede per helikopter te bereik.

Gemma Connell, hoof van die Verenigde Nasies (VN) se streekkantoor vir die koördinering van humanitêre aangeleenthede (Ocha), het aan die BBC  gesê dit lyk vanuit die lug asof sekere gebiede onder stootskrapers deurgeloop het.

“Dit reën steeds, maar gelukkig het die winde ietwat bedaar,” sê Connell.

Pumza Fihlani, BBC se korrespondent in Mosambiek, sê skade aan kraglyne in die noorde van Mosambiek bemoeilik kommunikasie en byna 20 000 mense het tydelike skuiling in onder meer skole en kerke gaan soek.

Weerkenners verbonde aan die VN sê dit is “ongehoord” vir twee storms van so omvang om Mosambiek in dieselfde seisoen te tref. Die noorde van die land word gewoonlik gespaar en mense in Cabo Delgado is nie gewoond aan sulke gure weerstoestande nie.

The Guardian berig intussen dat siektes soos cholera en malaria weens die gebrek aan skoon drinkwater en massas vloedwater kan floreer.

Desperate reddingswerkers is besig om met pikke, grawe en hul kaal hande in die puin en modder na enige oorlewendes te soek.



Meer oor:  Mosambiek  |  Sikloon Kenneth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.