Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Sikloon rig nog skade in Mosambiek aan
’n Nedersetting noord van Pemba in Mosambiek is in puin gelê deur sikloon Kenneth. Foto: REUTERS/Mike Hutchings

Soos duisende ander mense in die Cabo Delgado-provinsie soek Ernesto Parivos na tekens dat die vloedwater besig is om te sak nadat Mosambiek verlede week deur die sikloon Kenneth getref is.

Die School for Teachers of the Future waar Parivos die hoof is, is al sedert verlede week sonder krag, 11 van die kollege se geboue is beskadig en die meeste van die paaie wat na die hoofstad Pemba lei, is onbegaanbaar.

Parivos en die 80 inwonende studente en personeel is gestrand by dié onderwysopleidingskollege in die Quissanga-distrik. “Teen die einde van die week is die kos dalk op,” het hy telefonies aan Reuters gesê.

Volgens nooddienswerkers wag inwoners in talle afgeleë gebiede en klein eilande op kosvoorraad.

Die idilliese Ibo-eiland het groot skade gely en ’n kliniek op die eiland lyk asof dit deur ’n bom getref is, volgens ’n joernalis van Reuters wat die skade uit ’n vliegtuig gesien het.

In ’n nedersetting noord van Pemba is geboue platgevee en lê mense se besittings gestrooi oor die grond.

’n Kliniek op Ibo, noord van Pemba, is erg beskadig. Foto: REUTERS/Mike Hutchings

Mosambiek herstel nog van die sikloon Idai wat die binneland ses weke gelede getref het. Die sikloon het die Mosambiekse hawestad Beira vernietig, verwoestende vloede veroorsaak en tot die dood van meer as 1 000 mense in Mosambiek, Malawi en Zimbabwe gelei.

Ná die sikloon Kenneth is kommunikasie afgesny en kon geen hulpvlugte plaasvind nie. Een vlug van die Verenigde Nasies se Wêreldkosprogram (WFP) het dit wel Dinsdag tot in Quissanga gemaak, maar die reën het enige verdere planne in die wiele gery, sê die agentskap.

Woensdag kon hulle hul eerste besending, wat koekies vir energie en mediese voorraad ingesluit het, in Ibo aflewer. Dit is hier waar stormwinde bykans elke houthuis platgevee en die bas van bome afgeruk het.

Hulpwerkers en inwoners het met opruimingswerk begin, maar die behoefte op die eiland is groot.

“Daar is baie faktore: humanitêre hulp, water, die siektes wat kan uitbreek,” het Marcel Nordin, ’n paramedikus van Suid-Afrika se ER24-nooddiens, gesê, terwyl hy ontwortelde bome van ’n grondpad verwyder het.

Volgens die Mosambiekse regering is 41 mense in die gebied dood, maar die dodetal kan styg wanneer die regering en noodlenigingsorganisasies meer gebiede bereik. Daar is volgens die regering meer as 38 000 huise in die streek verwoes en bykans 21 000 mense wat in sentrums gehuisves word.

Dit het Woensdag ophou reën, maar nog reën word voorspel wat tot verdere oorstromings kan lei.

– Reuters

Klere word opgehang by ’n huis wat tydens die sikloon verwoes is op die Ibo-eiland. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi


Meer oor:  Mosambiek  |  Sikloon Kenneth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.