Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Sisulu: Water móét reg

“Maak vas jul veiligheidsgordels. Die departement van water en sanitasie móét omgedraai word om te keer dat hy uitmekaarval.”

So het Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Dinsdag in haar begrotingsrede gesê.

Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings.

Sy het ’n pleidooi gelewer dat dié departement se aansien in die oë van Suid-Afrikaners herstel word. Amptenare van die departement moet hul trots herwin.

Die minister sê die skade wat in  die verlede aan dié departement se geld­sake, sy beeld en sy werksaam­hede aangerig is, is feitlik “onmeetbaar”.

“Ek dink nie al die amptenare in die departement besef werklik hoeveel skade aangerig is nie. 

“Ek was geskok toe ek uitvind hoe diep die skade werklik loop,” het Sisulu ná haar toespraak aan die media gesê.

Volgens haar is daar verskeie ondersoeke aan die gang om uit te vind hoe die skade veroorsaak is. Mense sal die gevolge moet dra. Sisulu sê alle amptenare sal ondervra word en die skuldiges sal aan die pen ry. Sy sê die samesmelting van die departement van menslike nedersettings met dié van water en sanitasie is “net logies”. 

Sy is “optimisties” dat hierdie samesmelting die “swaar wolk” sal lig wat oor die departement van water en sanitasie hang.

“Ek is bewus daarvan dat ’n enorme hoop werk voorlê.” 

Sy beklemtoon sy en haar span het wel die energie om die departement reg te ruk.

“Ons gaan begin deur waarnemende poste met senior personeel te vul. ’n Soliede personeelkomponent is noodsaaklik om veral die finansiële wanbestuur wat in die verlede plaasgevind het, stop te sit. 

Die grootste probleme
  • Verouderde infrastruktuur en ’n gebrek aan kundigheid, veral op munisipale vlak, kort om probleme op die regte tyd op te los. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die departement duur konsultante moes gebruik;
  • Die regering se vaardigheid om water te bestuur, is swak. Dit is die grondwetlike plig van die 144 plaaslike owerhede wat ook waterdienste mag lewer om water- en sanitasiedienste te verskaf. ’n Derde van hierdie plaaslike owerhede is wanfunksioneel
  • Die helfte van bogenoemde owerhede het geen of beperkte tegniese personeel; 
  • Myne, groot waterverbruikers, oortree die vereistes van hul waterlisensies;
  • Die departement se infrastruktuur word gesteel of beskadig;
  • Die niebetaling van dienste;
  • Die departement se bestuur van projekte is swak. Dit gee aanleiding tot vertragings. Dié twee aspekte, tesame met swak kommunikasie, het daartoe gelei dat die departement ’n baie swak beeld na buite opgebou het; en
  • Die grootste probleem is finansiële wanbestuur met die gevolg dat baie topamptenare op nasionale en munisipale vlak tans aan ondersoeke onderwerp word.

“Ons moet sorg dat die personeel hul selfvertroue terugkry.”

Deurdat die omdraaiplan so omvattend is, gaan personeel binnekort  sewedagskofte werk. Sisulu sê sy is sedert haar aanstelling deur ’n “intense” konsultasie­proses om haarself op die hoogte te bring van die water- en sanitasie­sektor.

In dié tyd het sy besef plaaslike owerhede kom nie die mas op wat betref die lewering van water en sanitasie aan gemeenskappe nie. 

“Hierdie verantwoordelikheid is net te groot.”

Sy wys daarop dat 3 miljoen Suid-Afrikaners geen toegang tot water het nie. 14,1 miljoen het nie toegang tot veilige sanitêre geriewe nie.

“En tog belê die regering jaarliks R42 miljard in waterinfrastruktuur en R13 miljard in sanitasie. Dít is heeltemal te min. 

“Die departement het vir die volgende tien jaar jaarliks minstens R90 miljard daarvoor nodig.

“As ons nie sanitasie kan bestuur nie, loop onverwerkte rioolafval in ons riviere. Ons kan nie net kla nie en moet met oplossings vorendag kom,” sê sy.

Die belangrikste kwessie wat onmiddellik getakel moet word, is dié van die departement se geldsake. R16,44 miljard is vir die 2019-’20-boekjaar vir die departement begroot. Die departement gaan wel die nuwe finansiële jaar binne met skuld van R1,7 miljard waarin die departement gedompel is.

Sisulu wys daarop die departement is tans in gesprek met die tesourie vir ’n verdere R2 miljard wat gebruik moet word vir sleutelprojekte in die Emfuleni- plaaslike owerheid en vir die Mzimvubu-waterprojek.

Sy het vrae oor ’n regrukplan aan Mbulelo Tshangana, waarnemende direkteur-generaal, oorgelaat wat gesê het “daar is ’n plan”, maar dat hy nie “nou daaroor kan uitwei nie”.

Planne
  • Plaaslike owerhede skuld die nege waterrade en die departement R14 miljard vir die verskaffing van ongesuiwerde water en ander waterdienste; 
  • Munisipale amptenare sal in die toekoms verpligte opleiding ontvang om hulle toe te rus met kundigheid;
  • Tenderprosedures moet hersien word;
  • Die departement se konstruksie-eenheid gaan herleef. Buiten konstruksiewerk, sal dié eenheid ook verantwoordelik wees vir die instandhouding van infrastruktuur;
  • Die kabinet sal versoek word om alle groot damme tot nasionale sleutelpunte te verklaar; 
  • Meer tegnologie gaan in werking gestel word om watergebruik en -gehalte te monitor;
  • Nuwe regulasies vir waterbewaring sal opgestel word;
  • Van 1 Augustus af sal inspekteurs aangestel word wat riviere, damme en rioolaanlegte gereeld sal inspekteer;
  • Alle huidige ondersoeke sal vinniger afgehandel word;
  • ’n Wet oor watergebruik gaan, net soos die transformasie van grondbesit, deurgevoer word; en
  • Emmertoilette gaan binne ses maande uitgefaseer word.
Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Politiek  |  Begrotingsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.