Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Skaars blou vlinder het Knysna-brande oorleef

Die Brenton Blue-skoenlapper (Orachrysops niobe) het die verwoestende brande, wat Knysna en Brenton-on-Sea op 7 Junie vanjaar feitlik tot as laat verbrand het, moontlik oorleef.

Só het Jan Praet, voorsitter van die Lepidoptera Vereniging van Afrika se takke op die Hoëveld, wat Gauteng, Noordwes en die Vrystaat insluit, Donderdag gesê.

Hy sê dis nog te vroeg om met sekerheid te praat, maar drie van die skoenlappers is onlangs gesien in die reservaat wat in die vroeë jare 2000 by Brenton-on-Sea vir hulle geskep is.

Volgens Praet is twee van die skoenlappers manlik en een vroulik.

Hy het vertel die brande in die gebied het lede van die Lepidoptera Vereniging slapelose nagte besorg. “Ons was bang die brande het die skoenlapper se voedselbron, die plant Indigofera arrecta, maar ook die houtkappermier (Camponotus baynei) waarmee die Brenton Blou ’n simbiotiese verhouding het, vernietig.

“Vrae het deur ons koppe gemaal. Selfs al sou die skoenlapper in November uit die miernes uitbroei, sou daar nektarplante – hul voedingsbron – vir hulle beskikbaar wees? Sou daar Indigofera-plante wees waarop die vroulike skoenlappers hul eiers kan lê? En wat van die miere? Sou hulle die verterende vlamme en die hitte kon oorleef?”

Praet sê teen einde Augustus het die plante in Breton-on-Sea en Knysna begin uitloop. Tussen al die plante is die Indigofera opgemerk. “Dit was ’n goeie teken en ons was versigtig optimisties, maar daar was nog geen teken van die Brenton Blue nie.”

Dr. Dave Edge en Hanna du Toit, albei skoenlappergeesdriftiges, het in die laaste week by Brenton-on-Sea na die Brenton Blue gaan soek. Teen middel November het hulle nog nie ’n enkele skoenlapper gesien nie. “Hulle het die ergste verwag,” sê Praet.

“Ons het gedink al die ruspes het dalk doodgebrand, veral nadat botaniste verklaar het die teelaarde vir sade om te ontkiem is heeltemal in die brande vernietig. Die Brenton Blue-ruspe leef wel 150 mm onder die grond in mierneste, maar ons het gewonder of dit diep genoeg sou wees om aan die vlamme te ontkom.

‘n Vroulike Brenton Blou-skoenlapper. Drie van die skoenlappers, waarvan een vroulik en twee manlik is, is die afgelope drie weke in Brenton-on-Sea gesien. Foto: JUSTIN BODE

“Dave en Hanna het ’n week later byna tou opgegooi, maar toe op 24 November ’n klein skoenlapper op ’n plant sien sit. Dave het nader gekruip en kon dit van onder beskou. Hy het die Brenton Blue-skoenlapper aan die swart spikkels aan die onderkant van sy lyf herken. Later het Dave en Hanna vier eiers op die Indigofera gesien. Op 28 November het hulle die vroulike en twee manlike skoenlappers gesien.

“Ons is baie opgewonde, maar steeds versigtig om te optimisties te wees. Ons hoop daar is volhoubare bevolkings van die Brenton Blue oor. Die drie skoenlappers is wel ’n goeie teken.”

Die Brenton Blue is een van die mees bedreigde skoenlappers in Suid-Afrika. Ná ’n landwye veldtog om die skoenlapper voor die stootskrapers in die laat jare negentig en vroeë 2000’s in Brenton-on-Sea te red, is ’n reservaat spesiaal vir hulle gevestig.

Suid-Afrika het meer as 850 skoenlapperspesies. Altesame 2 800 van Afrika se 3 000 spesies kom suid van die Sahara voor. Brittanje het net 64 spesies, terwyl Indië 1 440 en Australië 360 het.

In die Kaapse fynbos kom ongeveer 270 soorte voor, maar dié spesies is meestal van die familie Lycaenidae, waar die skoenlapper en sy larwes op die een of ander manier met miere in verband gebring word.

Meer oor:  Knysna  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.