Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
SKATTIGE FOTO'S: Nuwe langnek al agter ma aan
Paseka, die kameelperdbulletjie wat vandeesweek in die Naval Hill-natuurreservaat in Bloemfontein gebore is. Foto: Mlungisi Louw

Aanvanklik was dit net een langnek wat bo die takke uitgetroon en rustig wegstap. Dit is eers toe die kameelperdkoei in die oopte loop dat haar galoppende klein duplikaat sigbaar word.

Dié kameelperdbulletjie is waarskynlik Sondag of Maandag in die Naval Hill-natuurreservaat in Bloemfontein gebore. Daar is dus nou drie kameelperde in die reservaat.

Die kalfie hardloop agter sy ma aan asof hy aan haar spreekwoordelike rokspante vas is. Sy pa staan op ’n afstand en wei.

Petrus Mohapi, ’n toesighouer by Naval Hill, is Woensdag aangenaam verras toe hy skielik dié kalfie op sy patrolliediens gewaar.

Mohapi, wat al 31 jaar in Naval Hill werk, meen dat die kleintjie Sondag of Maandag gebore is omdat sy bene nog nie sterk is nie.

Mohapi sê hy is baie lief vir die diere waarna hy omsien. Hy en ’n kollega het al drie kameelperde name gegee.

Die nuweling is Paseka gedoop, ’n Basotho-naam wat “gebore op Paasfees” beteken. Mohapi sê hy word só genoem omdat hy in die week van Goeie Vrydag gebore is. Die kampeelperdkoei is Masabata en die bul, Makintane.

Mohapi sit onder meer voer vir die diere uit en kyk dat hulle nie versteur word nie. Hy gee die kameelperde lusern en perdepille.

Masabata, die kameelperdkoei, versteek agter die plantegroei. Sy troon uit bo haar jongeling en die groenigheid in Naval Hill in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Daar is ook onder meer tak- en blesbokke, sebras en blouwildebeeste.

Dr. Francois Deacon, dosent en navorser in die departement vee-, wild-en-weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê dit bly uitsonderlik wanneer ’n kalfie in aanhouding gebore word. “Die kameelperdkoei is 15 maande dragtig. Baie dinge moet reg gebeur voordat ’n kameelperd dragtig raak.”

Hy sê dat die diere bykomend gevoer word, het die omstandighede vir aanteling gunstig gemaak.

“Dit het gehelp dat hulle genoeg energie kon opbou en dat hul hormoonvlakke reg is om voort te plant.”

Volgens Deacon is dit seldsaam dat kameelperde in en rondom Bloemfontein aanteel. Dié diere het nie oorspronklik in die Vrystaat voorgekom nie, maar net deur die gebied gemigreer. Hy sê omdat die bome in die Vrystaat bladwisselend is, het geen “blaarvreter” ordentlike kos in ’n Vrystaatse winter nie.

“So dit is raar dat hulle in die Vrystaat bly en aanteel.”

As dit nie vir die bykomende voer was nie, sou die kameelperde nie daar oorleef het nie. Nou is daar egter baie kameelperde in en om Bloemfontein wat aanteel.

“Elke tweede wildplaas het kameelperde en dit het die getalle laat styg.

“As dit nie was vir die waarde wat ons met wildplase aan dié diere geheg het nie, sou die getalle lankal nie meer aangegroei het nie.

“In die res van Afrika sterf hulle uit, maar in Suid-Afrika laat ons hul getalle groei.”

Die jongste kameelperd in Naval Hill in Bloemfontein is soos ’n stertjie agter sy ma aan. Foto: Mlungisi Louw

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.