Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Skielike koue, reën eis sowat 2 000 skape in S-Vrystaat

Byna 2 000 geskeerde skape het oornag in die Suid-Vrystaat gevrek in skielike koue en reën wat ná ’n hittegolf toegeslaan het.

Boere in die Smithfield-distrik het groot skade gely nadat ’n hittegolf Dinsdag gevolg is deur reën en ’n koue suidewind die nag. Dit was die eerste goeie reën hier in sowat agt maande.

Die kombinasie van wind en reën is dodelik vir ’n geskeerde skaap, sê Johann Neethling, voorsitter van Smithfield-Landbou. Hy het self Dinsdagnag byna 100 skape verloor.

In die Suid-Vrystaat is tussen 20 mm en 35 mm reën gemeet. Die reën het met ’n wind van tussen 25 km/h en 30 km/h en ’n temperatuur van 4,5 °C gepaardgegaan, sê Neethling.

Gerrie van der Walt, voorligter by die Vrystaatse departement van landbou, sê minstens vyf boere het skape verloor, met een boer wat sowat 1 200 kwyt is. Die ander boere het tientalle verloor.

“As dit só reën en daar is ’n koue wind, is daar nie veel wat ’n mens kan doen behalwe om hulle te beskut nie.

“Jy moet vir hulle skuiling bied, maar jy kan nie vir so baie skape skuiling gee nie. Dis maar altyd moeilik,” sê Van der Walt.

Baie skape is ook nou geskeer.

As dit só reën en daar is ’n koue wind, is daar nie veel wat ’n mens kan doen behalwe om hulle te beskut nie.

Van der Walt stel voor dat ’n winterkam of handskêr gebruik word sodat langer wol oorbly wat die skaap beskerm.

Hy sê boere moet ook probeer om vir gevalle soos dié te verseker.

In die Smithfield-distrik het sowat 1 600 skape gevrek en by Trompsburg tussen 150 en 200, sê Herman Archer,

voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV).

Archer self het 30 skape verloor, wat reeds in die tweede week van November geskeer is. Hy sê nie al die skape wat gevrek het, was pas geskeer nie.

Volgens hom was die gebeure “baie, baie onverwags” en dit is “redelike skade” vir die wolbedryf.

“Maandag was die temperatuur baie warm en Dinsdag het dit heeldag gereën. Dinsdagaand het ’n koue suidewind eers ná donker opgesteek. Dit was moeilik vir die boere om op te tree.”

Hy sê in dié stadium is die risiko die onvoorspelbaarheid van die weer.

Tonie Rossouw, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê die nattigheid op die skape se vel saam met die afkoeling van die wind is dodelik.

“Ons het Maandag nog hittegolftoestande gehad en Dinsdag het ons donderstorms begin kry. Dit het begin reën en ons het goeie reën gehad.”

Rossouw sê dit was ’n kombinasie van koue lug wat met die reën uit die wolke sak en die wind wat van agter kom.

Voor die weerstelsel was ’n warm noordwestewind. Agter die stelsel het die wind in ’n suid-suidwestelike rigting gedraai, en die lug afgekoel.

Hy sê met so ’n weerstelsel kan die temperatuur binne ’n halfuur met sowat 20 °C val, wat die uitwerking het wat dié boere hier ervaar het.

Meer oor:  Boerdery  |  Koue  |  Boere  |  Skape  |  Hittegolf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.