Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Skraal kans’ op reën in NK, hewige storms elders
weer, weervoorspelling, sonsondergang
’n Sonsondergang in die Vrystaat. Die son sak hier in skakerings van rooi en oranje oor die Vrystaat die naweek. Hoewel dit meer as 20 mm gereën het vroeër die week, het die bewolkte weer geen opvolgreën gebring nie. Die foto is op die Middelwater-gasteplaas naby Bloemfontein geneem. Foto: Charles Smith
Netwerk24 charles smith

Terwyl boere in die Dorsland van die Noord-Kaap geduldig wag op reën, begin die boere in die oostelike saaigebiede ploeg en plant, al is dit effens laat.

Elani Heyneke, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê die sentrale dele van die Noord-Kaap het ’n “baie skraal 30%-kans” op reën vir Maandag en Dinsdag.

Terwyl dele van die Oos-Vrystaat ’n 60%-kans staan vir reën op dié dae, het die boere hier begin om lande te ploeg ná die somerreën vroeër.

Van Woensdag af lyk die kanse minder vir reën in dié gebiede.

Maer diere word gevoer om die opstal op die plaas Dubbelevlei, naby Vanwyksvlei in die Noord-Kaap. Foto: Linkie Bessinger
Netwerk24 Linkie Bessinger

Maandag en Dinsdag is daar ook ’n 60%-kans vir reën in die res van die Vrystaat.

Vir Maandag voorspel die weerdiens hewige donderstorms in die westelike dele van die Vrystaat en die verre oostelike dele van die Noord-Kaap.

Vorster Zeilinga, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou in Harrismith, sê die reënval hier is ver onder normaal vergeleke met ander jare.

“Van die seisoen begin het op 1 September het ons nog net 114 mm reënval gehad.”

“Verlede jaar, wat ook ’n droë jaar was, het ons teen dié tyd al 182 mm reën gehad, terwyl ons gemiddeld 230 mm reën in ’n somerseisoen kry.”

’n Somertoneel van ’n perd by water in die Oos-Vrystaat. Terwyl dit oor groot dele van die land bitter droog is, is dié toneel buite Clarens in skerp teenstelling met die beelde van diere wat gevoer word op dorre, kaal vlaktes. Foto: Dawie Jacobs

Zeilinga sê die droogte vertraag hul planttyd.

“Waar ons gewoonlik in Oktober begin plant, kon ons vanjaar eers 20 dae later begin plant.

“Baie boere moet ander gewasse plant om aan te pas by die droogtetoestande.”

Carel van der Merwe, ’n boer van Vanwyksvlei, sê sy boerdery voel al die afgelope vier jaar die druk van die droogte. Vanjaar het hy net 11 mm reën op sy plaas Stofbakkies gemeet.

“Met elke jaar wat die droogte voortduur, hou dit groter gevolge vir boerderye in. Dis nie dat ons glad nie reën kry nie, maar die reën het van 2015 elke jaar die helfte minder geword.”

’n Plaashuis in die Noord-Kaap. Wolke hang oor die huis op die plaas Dubbelevlei, buite Vanwyksvlei, waar dit meer as sewe jaar laas gereën het. Hier is geen gras in sig nie. Foto: Linkie Bessinger
Netwerk24 Linkie Bessinger

Pieter Schutte, ’n deeltydse boer van Fouriesburg in die Oos-Vrystaat, sê die wisselvallige reënval veroorsaak dat boere nie hul plantseisoene doeltreffend kan beplan nie. Hy sê boere moet die veranderde reënvalpatrone anders benader.

Waar hy vroeër in Oktober sy beeste ophou voer gee het, moet hy hulle nou in Desember steeds voer omdat dit nog nie gereën het nie en hy nog nie voer kon plant nie. Hy plant ander gewasse, soos hawer, net “om iets te hê vir voer”.

Llewellyn Brooks, besturende direkteur van GWK, ’n landboumaatskappy wat veral in die Noord-Kaap sake doen, sê boere is die boustene van die gemeenskap.

“As dit sleg gaan met hulle, gaan dit sleg met ons.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Storms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.