
’n Jagluiperd-teelsentrum wat dié diere gebruik vir sogenaamde onderrigdoeleindes. Foto: Bloodlions
Netwerk24Foto: Bloodlions
Die bewaringsorganisasie Bloodlions het met ’n veldtog begin om die plase waar jagluiperds geteel word, te “eien” met die oog op sluiting.
Dit volg ná die onthullings in die opspraakwekkende verslag “Breaking Point, Uncovering South Africa’s Shameful Live Wildlife Trade with China”, waarin bevind is daar bestaan verskeie plase in Suid-Afrika waar jagluiperds geteel en na die Ooste uitgevoer word. Jagluiperds word veral na Chinese dieretuine uitgevoer.
Hiermee saam het Carte Blanche op M-Net Sondagaand ’n insetsel uitgesaai oor die Hoedspruit Endangered Species Centre van Lente Roode.
Louise de Waal, bestuurslid van Bloodlions, sê dié organisasie het hom tot nou toe daarvoor beywer dat leeuplase gesluit word. Dit blyk egter nou dieselfde is besig om met jagluiperds te gebeur.
Volgens De Waal is jagluiperds veral gewild as troeteldiere en word hulle dikwels na die Midde-Ooste uitgevoer waar oliemagnate hulle aanhou.
Bloodlions het Dinsdag in ’n verklaring gesê jagluiperdwelpies word “binne enkele dae” nadat hulle gebore is van hul ma’s weggeneem en met die hand grootgemaak. Só word hulle halfmak gemaak en “word hulle deel van ’n bose kringloop van misbruik vir kommersiële gewin”.
“Jagluiperds is kleiner as leeus en baie telers meen hulle is dus minder gevaarlik.
“Dit is egter onwaar, omdat die meeste aanvalle die afgelope tien jaar gewys het jagluiperds was daarby betrokke.”
Onetiese telery
Volgens De Waal is dit baie goed dat die kollig nou op hierdie onetiese telery val sodat dit betyds gestop kan word.
Sy sê ’n vinnige ondersoek het gewys daar is na raming tussen 600 en 1 000 halfmak luiperds op 80 teelplase in Suid-Afrika. Dié plase laat toeriste toe om met welpies te speel en met die jagluiperds rond te loop.
De Waal sê baie van die teelplase gee voor hulle teel jagluiperds vir bewarings- en onderrigdoeleindes en dat hulle die diere later weer in die natuur vrylaat. Sy het gesê dit is kommerwekkend dat die telers die diere op só ’n manier teel dat daar genetiese besmetting plaasvind.
R275 000 vir jagluiperd
Volgens Carte Blanche verkoop ’n jagluiperd vir sowat R275 000.
De Waal wys daarop dat Suid-Afrika tussen 2008 en 2018 altesame 422 jagluiperds uitgevoer het. Die grootste invoerders van dié diere is China (101), Amerika (64) en die Verenigende Arabiese Emirate (47).
Dr. Smaragda Louw, een van die outeurs van die verslag Breaking Point, sê volgens Cites is jagluiperds gelys op aanhangsel 1 wat beteken die diere word as bedreig beskou en daar mag nie vir kommersiële doeleindes met hulle handel gedryf word nie. Sy sê tog eindig feitlik alle jagluiperds (waarvan sy bewus is) in Chinese dieretuine op waar die omstandighede haglik is.
Roode het aan Carte Blanche gesê sy het in ’n stadium jagluiperds uitgevoer, maar gaan dit nou staak. Sy het erken dat sy dit vir “geld” gedoen het. Volgens haar oorweeg sy dit nou om haar fasiliteit te sluit omdat sy “te veel” jagluiperds het.
Sy wou nie Dinsdag kommentaar lewer op die Carte Blanche-program nie en het laat weet sy is met haar prokureur in gesprek.