Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Sneeu omskep talle plekke in SA in sprokieswêreld
Coco geniet die sneeu op Matroosberg naby Ceres in die Wes-Kaap. Foto: Snow Report SA/Facebook

Die Afriski-bergoord in Lesotho raai mense aan om die oord eers volgende naweek te besoek omdat stormsterkwinde nou daar woed en die temperatuur -15 ºC is.

Martin Schultz van Afriski het Saterdag gesê sterk winde het reeds Vrydagmiddag begin waai. “Ons span by die oord het Saterdagoggend wakker geword met ’n sneeustorm. Ons verwag sneeu van 2 cm diep, en moontlik dieper hoër op by die oord.”

Teen Saterdag het stormsterkwinde nog gewaai en was die temperatuur ’n ysige -15 ºC. “Ons verwag dat dit tot -25 ºC kan daal. Ons vra gaste daarom om eerder volgende naweek te kom. Die erge wind en koue kan ook ys op die paaie laat vorm, wat dit uiters gevaarlik sal maak om die Motengpas te ry.”

Intussen het sneeu wat sedert vroeg Saterdagoggend by die Semonkong-lodge in Lesotho geval het ook dié omgewing in ’n sprokieswêreld verander. Hier word sowat 10 cm se sneeu verwag en die temperatuur was teen Saterdagoggend 0 ºC – heelwat warmer as die hoërliggende dele in Lesotho.

Mense van heinde en ver het foto’s en video’s van sneeu op Snow Report SA se Facebook-blad geplaas: vanuit die Wes-Kaap (die Matroosberg en Hexrivierberge), die Oos-Kaap (Lady Grey en Rhodes), die Vrystaat (Clarens) en selfs die Kalahari.

By die Semonkong-lodge in Lesotho word sneeu van tot 10 cm diep verwag. Foto: Semonkong Lodge
’n Hoender wat ‘kniediep’ in die sneeu staan by die Semonkong-lodge in Lesotho. Foto: Semonkong Lodge
’n Perd waag sy neus in die koue by die Semonkong-lodge in Lesotho. Foto: Semonkong Lodge
Die Semonkong-lodge in Lesotho was Saterdag spierwit getooi. Foto: Semonkong Lodge
Die Afriski-bergoord in Lesotho. Foto: Martin Schultz
By die Afriski-bergoord in Lesotho. Foto: Martin Schultz

Die Eersterivier se walle het Saterdag in die vroeë oggendure by Sandvlei in Macassar, naby Kaapstad, oorstroom.

Volgens Charlotte Powell van Kaapstad se rampbestuurafdeling is inwoners van die Sewende Laan- informele nedersetting daar ontruim. Noodbehuising is elders aan hulle verskaf.

Verskeie ander informele nedersettings in die Kaapstad-omgewing het ook onder die gure weer deurgeloop. Die Kaapstadse departement betrokke by die bestuur van informele nedersettings is besig om die omvang van die probleme te bepaal. Kospakkies word voorsien en vervoer word verskaf, sê Powell.

Verskeie paaie in en om Kaapstad het oorstroom.

Mbavhi Maliage, ’n weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die koue en gure weer die afgelope paar dae in Suid-Afrika is deur twee kouefronte veroorsaak. Die eerste front het die Oos- en Wes-Kaap Donderdag getref. Dit is die koue lug agter dié front wat die noordelike dele van die land nou tref.

“Die koudste dele in die land Vrydag was die Wes-Kaap, dele van die Noord-Kaap en die suidelike Vrystaat. Vandag (Saterdag) is dit die koudste in die Noord-Kaap, die Vrystaat, Noordwes en Gauteng.”

Die tweede koue front is wel nie so erg soos die eerste een nie, maar die Oos- en Wes-Kaap, asook dele van KwaZulu-Natal loop steeds deur, sê Maliage.

Temperature in die noordelike dele van Suid-Afrika sal vanaf Sondag weer begin styg, maar dit sal steeds koel wees met temperature in die hoë 10’s en lae 20’s.

Meer oor:  Martin Schultz  |  Lesotho  |  Sneeu  |  Sprokieswêreld  |  Afriski-Bergoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.