Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Só kan ‘geblikte’ leeus tot mense se dood lei

Die middel wat gebruik word om “geblikte” leeus te verdoof voordat hulle in ’n abattoir doodgeskiet word, kan “dodelik” wees vir mense wat in die bedryf werk.

Dié waarskuwing kom van Carel Zietsman, ’n prokureur van Noordwes wat spesialiseer in omgewingsreg.

Hy het in ’n brief aan Philemon Mapulane, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor omgewingsake, geskryf die middel kan tot mense se dood lei as dit in hul bloedstroom beland.

Maar dit gaan verder. Die verdowingsmiddel kan van die dier se bloedstroom tot in die beenmurg beland.

Zietsman het Donderdag gesê hy is ook ’n wildboer en werk nou saam met veeartse wat die middel gebruik. Dit word gereguleer as ’n skedule 4- en 5-medisyne en word volgens wildboere gebruik om leeus te verdoof voordat hulle met ’n .22-geweer in die oor doodgeskiet word.

In die debat oor die geblikteleeubedryf wat op 21 en 22 Augustus in die parlement gevoer is, het leeuboere dié metode voorgehou as die “menslikste manier” om leeus dood te maak voordat hulle geslag word.

Ingevolge wetgewing mag net veeartse die middel in hul besit hê en dit toedien.

Zietsman sê sy jongste brief was ’n opvolg op een wat hy op 19 Augustus aan Mapulane geskryf het as deel van sy skriftelike voorlegging oor die bedryf.

Zietsman skryf ook die bedryf is hoofsaaklik ongereguleerd en word nie gepolisieer nie. Dit kan gevaarlik wees.

Die middel wat in leeu-abattoirs toegedien word, kan groot gevare inhou vir die mense wat in die bedryf werk, asook vir die Oosterlinge wat die bene vir medisinale doeleindes gebruik.

Zietsman is veral bekommerd oor die mense wat die leeus afslag en met die dier se bloed in aanraking kom.

“As iemand wat die leeu afslag ’n seertjie het of homself per ongeluk met die mes raak sny, sal die middel in sy bloedstroom beland. Dit kan binne drie minute tot die persoon se dood lei,” sê Zietsman.

“Maar dit gaan verder. Die verdowingsmiddel kan van die dier se bloedstroom tot in die beenmurg beland.”

Hy wys ook daarop dat Edna Molewa, minister van omgewingsake, vroeër vanjaar bepaal het 1 500 skelette van “geblikte” leeus sal vanjaar uitgevoer kan word. Dit beteken volgens hom dat die leeubeendere nog murg bevat en dat spore van die middel steeds daarin is.

Hy vra Mapulane om dié aspek in gedagte te hou wanneer hy sy verslag oor die bedryf opstel.

Zietsman vra dat die geblikteleeubedryf gestaak moet word totdat dié aspekte wetenskaplik nagevors is.

Hy skryf aan Mapulane die slagting van leeus moet onmiddellik gestaak word waar mense se lewe op die spel is.

Volgens Zietsman kan Suid-Afrika regsaksie te wagte wees as Oostelinge siek word nadat hulle van die Suid-Afrikaanse leeubeendere gebruik het.

Mapulane het Donderdag gesê hy en sy komitee is besig om die verslag op te stel. Dit behoort binne die volgende twee weke voltooi te wees. Daarna sal dit aan die Nasionale Vergadering voorgelê word waar dit bespreek sal word.

Die middels wat in die bedryf gebruik word, is:

* Zoletil;

* ’n Kombinasie van Zoletil en medetomidien; en

* Ketamien gemeng met xilasien of medetomidien.

Meer oor:  Wildboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.