Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Só verdwyn bedreigde woud by Hermanus

’n Woud by Hermanus met beskermde witmelkhoutbome is in ’n kwessie van ’n paar maande verwoes, maar die owerhede sê hulle kon nie dié bedreigde ekostelsel beskerm nie omdat dit op private grond is.

Die grond, wat as Schulphoek bekend staan, lê tussen die kus en Zwelihle en groot dele daarvan is verlede jaar beset, terwyl die munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering in die proses is om dit oor te koop en te ontwikkel.

Satellietfoto’s dui aan dat groot dele van die woud, wat glo oorspronklik 25 hektaar beslaan het, tussen April en Desember 2018 verwyder is om plek te maak vir informele behuising.

Die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings het vandeesweek bevestig hy beoog om die melkhoutbome te bewaar en dit sal deel wees van die groen ruimtes in die konsep-ontwikkelingsraamwerk vir Schulphoek.

Die departement wil ook die grond omhein om verdere besettings te verhoed, maar gemeenskapslede van Zwelihle het op ’n vergadering vandeesmaand kommer uitgespreek dat dit kan lyk asof hy “mense weg van die strand wil hou”.

Beskermde bome, bedreigde ekostelsel

Die nasionale departement van omgewingsake, bosbou en visserye het Vrydag bevestig die woud bestaan grootliks uit witmelkhout (Sideroxyon inerme) wat ingevolge die Wet op Nasionale Woude (1998) beskerm word.

Albi Modise, kommunikasiehoof van die nasionale departement, sê die witmelkhout is ’n beskermde boom ingevolge art. 15 van die wet en mag dus nie sonder ’n lisensie beskadig, verwoes of versteur word nie.

’n Lugfoto van Schulphoek buite Hermanus in die Wes-Kaap. Dié stuk grond langs Zwelihle is met rooi omlyn. Foto: Verskaf

Ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit is Wes-Kaapse melkhoutwoude tot bedreigde ekostelsels verklaar en is daar “spesifieke beperkings” wat aansoeke vir grondgebruik en beplanning betref, sê Modise.

“Die Overstrand-munisipaliteit het beplan om ’n deel van dié grond te ontwikkel vir sport en ontspanningsgeriewe, terwyl die oorblywende grond as oop ruimte behou sou word. Vir dié doeleindes het die munisipaliteit die eienaar genader om die grond te verkry.”

Die departement het egter in Februarie 2018 die munisipaliteit in kennis gestel die voorgestelde ontwikkelings sal nie as buitengewone omstandighede beskou word nie en hy sal nie ’n lisensie toestaan vir die verwydering van “enige deel van die woud nie”, volgens Modise.

“Daarna het die streekskantoor vir bosbou laat in Oktober 2018 die eerste keer bewus geword dat die woud bedreig word. Daar is toe aangemeld dat mense die grond beset, die woud uitkap en ’n informele nedersetting skep.”

Beamptes van die bosbou-streekkantoor het toe ’n inspeksie van die grond gedoen en klagtes by die polisiekantoor in Hermanus ingedien.

Amptenare van die streekkantoor en die direktoraat vir bosbouregulering en oorsig het in Desember 2018 met die Overstrand-munisipaliteit vergader.

“Hier het die munisipaliteit aangevoer dit is die polisie se verantwoordelikheid om teen die grondbesetters op te tree en nié die munisipaliteit s’n nie. Die munisipale beskermingsdienste is net veronderstel om lewens, eiendom en dienste wat gelewer word, te beskerm.”

’n Satellietfoto van 29 April 2018 wys die melkhoutwoud op die grond bekend as Schulphoek, suid van Zwelihle in Hermanus. Foto: Google Earth/Maxar Technologies
Teen 23 Desember 2018 is ’n groot gedeelte van die woud in Schulphoek reeds uitgeroei tydens besettings, soos dié satellietfoto aandui.Foto: Google Earth/Maxar Technologies

Verder het die amptenare met die polisie vergader en die volgende dag, op 4 Desember, weer ’n inspeksie gedoen.

“In dié tyd was daar ’n instroming van besetters, wat ’n gesamentlike operasie sou verg om dit stop te sit. Voltydse patrollering word ook vereis om verdere betreding van die grond en besetting van die woud te verhoed.”

Geen optrede

Volgens Modise het die polisie aangedui hy is nie bereid om die woud op ’n 24 uur grondslag te patrolleer nie en die departement is nie in staat om dit self te doen nie.

“Die munisipaliteit en polisie het saamgestem dit kom voor of die besettings georkestreer is. Bewyse daarvan is gegrond op waarnemings van vragmotorvragte van boumateriaal wat daar afgelaai is.”

Modise sê ’n ondersoekbeampte is aangewys nadat die departement ’n klag by die polisie ingedien het, maar daar was sedertdien nie “noemenswaardige vordering” met die saak nie.

Hy het daarop gewys dat die grondeienaar ’n interdik teen die besetters verkry het, “maar nie opgetree het om die interdik in sy guns uit te voer nie”.

“In die lig daarvan is daar baie min wat die departement kan doen om die instroming van onwettige besetters of die skade aan die woud en melkhoutbome te bekamp.”

Besorgde inwoners het in die afgelope tyd ook die departement genader om die oorblywende melkhoutbome te beskerm.

“Gevolglik word daar nou met die Wes-Kaapse polisieombudsman saamgewerk omdat die departement op die polisie staatmaak om teen dié onwettige bedrywighede op te tree.”

Grond glo binnekort oorgedra

Die kantoor van Tertuis Simmers, Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, het Donderdag bevestig die munisipaliteit en die grondeienaar het ’n koopkontrak geteken en die grond sal aan die munisipaliteit oorgedra word sodra die betaling afgehandel is.

Die provinsiale departement sal dan leierskap neem om die eiendom in samewerking met die Overstrand-munisipaliteit te ontwikkel, sê Marcellino Martin, Simmers se woordvoerder.

Albi Modise, kommunikasiehoof van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye.Foto: Twitter (@AlbiModise2)
Tertuis Simmers, LUR vir menslike nedersettings. Foto: Jenni Evans/News24

Op ’n vergadering op 7 Oktober 2019 waar al die belanghebbendes en verteenwoordigers van die gemeenskap van Zwelihle teenwoordig was, het van die verteenwoordigers gesê as daar ’n heining opgerig word sonder om die gemeenskap te raadpleeg, kan dit die indruk wek dat “mense weg van die strand gehou word”.

Simmers het die gemeenskapslede egter in kennis gestel die heining moet die bouperseel afsper en verdere besettings verhoed, “omdat vorige pogings waar die gemeenskap versoek is om op te hou met die besettings, nie suksesvol was nie”.

“Daar is toe ooreengekom ons sal eers met die belanghebbendes wat geraak word, in gesprek tree voordat ons ’n heining oprig.”

Dudley Coetzee, burgemeester van Overstrand, het vandeesmaand in ’n verklaring gereageer op gerugte op sosiale media en klagtes van inwoners en aangedui al die belanghebbendes het op ’n vergadering met Helen Zille, voormalige premier, ingestem geen onwettige strukture sal verder op die grond gebou word nie sodat dit vir behuising ontwikkel kan word.

Coetzee het onderneem om die hutte wat ná die ooreenkoms opgerig is aan die hand van munisipale bouregulasies te verwyder, maar het advies van Zille ontvang dat die regulasies nie gebruik kan word om die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsettings te omseil nie.

Die munisipaliteit het toe besluit om nie voort gaan met optrede teen die besetters nie.

Munisipaliteit se hande glo afgekap

Op 8 Oktober het Coetzee in ’n verklaring benadruk geen verdere besetting van Schulphoek kan plaasvind ter wille van die sukses van die voorgestelde ontwikkeling nie, waarvan die eerste fase na verwagting vroeg in 2020 kan begin.

Verder sê Coetzee die munisipaliteit mag nie private grond betree om besettings te verhoed nie. Sulke optrede sou op ongemagtige besteding en finansiële wangedrag neerkom.

“Waar dit moontlik is, sal ’n wetstoepassingsbeampte van die munisipaliteit by die ingang geplaas word om seker te maak mense wat boumateriaal aandra, word weggewys. Die munisipaliteit kan egter nie ’n wetstoepasser 24 uur per dag daar plaas nie.”

In September het Martin aangedui ’n ontwikkeling met wonings, ondernemings en geriewe vir die gemeenskap word op Schulphoek beplan.

Dudley Coetzee, burgemeester van Overstrand in die Wes-Kaap.Foto: overstrand.gov.za

Die munisipaliteit het toe in ’n verklaring gesê die verkope van R31,7 miljoen moet afgehandel word en 7 500 behuisingsgeleenthede kan gelewer word.

Dit sal veral op inwoners van Zwelihle en agterplaasbewoners in die omgewing gemik wees.

In Junie is berig die eienaars Cape Theme Parks (CTP) en Cavcor BK het in die hooggeregshof in Kaapstad aansoek gedoen om ’n uitsettingsbevel teen sowat 2 000 besetters in Schulphoek ná verlede jaar se onluste in Zwelihle.

Die grond was aanvanklik munisipale eiendom en is in 2010 aan die private ontwikkelaar Rabcav, ’n samesmelting van Rabie Property Group en Cavcor, verkoop.

CTP en Cavcor BK het in 2018 ’n tussentydse uitsettingsbevel bekom toe hulle die grond, wat toe vir R34 miljoen gewaardeer is, wou verkoop.

Met die transaksie was daar egter ’n voorwaarde dat dit sonder enige besetters verkoop word.

Vroeër is berig dat die grond vir R5,3 miljoen in 2010 aan Rabcav verkoop is.

Meer oor:  Hermanus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.