
Prof. Wilhelm de Beer van die Universiteit van Pretoria (naasregs) neem ’n boom af in die botaniese tuin in George terwyl omstanders toekyk. Foto: Jackie Kruger
Dit gaan moeilik wees om te bepaal hoeveel skade ’n uitheemse boorkewer aangerig het aan bome in die boomryke gebiede van Sanparke, soos Tsitsikamma en die Knysnabos, sê prof. Wilhelm de Beer van die Universiteit van Pretoria (UP).
Hy is op ’n tweedaagse besoek aan die Tuinroete om groter duidelikheid te kry oor die spoor van verwoesting wat waarskynlik deur die kewer in George en Knysna gelaat word.
Hy was Donderdag in George vir ’n ondersoek ter plaatse en sal Vrydag Knysna besoek. Hy sal na bome in Knysna kyk en ook Sanparke se personeel toespreek. Sanparke het vroeër gesê hy is bewus van die kewer, Euwallacea fornicatus, maar in dié stadium hou dit nie ’n bedreiging in vir die inheemse bosgebiede in die park nie.
Die George-munisipaliteit het vroeër gesê noodmaatreëls word oorweeg nadat besmetting deur die kewer en sy verwante swam in heelwat groot bome in George aangetref is.
Die kewer deurboor die boom se bas en dra die swam oor na die lewende hout. Dit kan tot besmetting lei wat veroorsaak dat bome kan vrek.
Op ’n vergadering Donderdag met belanghebbendes in George het De Beer onder meer gesê daar is ’n poging om ’n kaart saam te stel van die verspreiding. ’n Lys word saamgestel van die soort bome wat geraak word en die effektiwiteit van insek- en swamdoders. ’n Gifstof kan van Kanada af ingevoer word, maar dit is duur.
Hy sê DNS-monsters van die bome wat moontlik geraak word, sal geneem en getoets word. Die toetse duur sowat drie weke.
Tekens van besmetting wat reeds aan bome in George gewaar is, sluit in klein, opgehewe blou en swart letsels met ’n gaatjie in. Inheemse en uitheemse bome word geraak.
Volgens De Beer het bome in Sandton in Gauteng reeds begin vrek. “Dit is ’n natuurramp.”
Die kewer en sy swam is verlede jaar die eerste keer in die KwaZulu-Natalse Botaniese Tuin gevind. Die kewer is afkomstig van Suidoos-Asië. Dit is ’n indringer in Kalifornië, Israel en Suid-Afrika.
Tekens van besmetting wat reeds aan bome in George gewaar is, sluit in klein, opgehewe blou en swart letsels met ’n gaatjie in. Inheemse en uitheemse bome word geraak.
De Beer het gesê munisipaliteite moet betrokke raak, onder meer om stortingsterreine te identifiseer vir die geaffekteerde hout. Mense kan die besmette hout afsaag en dadelik verbrand.