Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Speel-welpies ‘grootgemaak vir geblikte jag’

Die bewaringsorganisasie Four Paws het ’n beroep op toeriste gedoen om nie plekke te besoek wat mense die geleentheid gee om met leeuwelpies te speel nie.

Fiona Miles, direkteur van Four Paws, het in ’n verklaring gesê baie diereliefhebbers stroom na leeuplase waar hulle met leeuwelpies kan speel of saam met leeus kan stap.

Sy sê talle mense besef nie dat hierdie geriewe en die aktiwiteite wat hulle aanbied, tot die uitwissing van leeubevolkings kan lei nie.

Twee geblikte leeuwelpies.

“Eienaars van hierdie geriewe maak meestal daarop aanspraak dat die welpies deur hul ma verwerp is of dat die ma dood is. Hulle gee dan voor dat hulle die welpies gered het.

“Dit is nié waar nie. Dié welpies word op aanvraag in gevangenskap geteel om hierdie geriewe gedurig van leeutjies te voorsien,” sê Miles.

Volgens haar is daar sowat 300 van dié soort leeuplase in Suid-Afrika waar die diere vir kommersiële doeleindes in aanhouding geteel word. Terwyl daar net sowat 3 000 wilde leeus in nasionale parke en beskermde gebiede is, leef tussen 8 000 en 10 000 in gevangeskap.

Die hantering – deur speel of streel – van leeuwelpies het ’n baie negatiewe invloed op hul welsyn.

“Hierdie welpies word dus gedwing om vir tussen agt en tien uur met mense in interaksie te wees. Dit dra daartoe by dat die diertjies uitgeput raak.”

Sy sê dié groot katte word aan mense gewoond gemaak sodat hulle nie mense aanval nie.

“Die welpies word binne enkele dae van hul ma verwyder sodat hulle deur mense met die hand grootgemaak kan word.

“Dit is nie net ongelooflik stresvol vir die wyfieleeu nie, maar die welpies kry ook nie die regte voedingstowwe in wanneer hulle met ’n bottel gevoer word nie.

“Deurdat hierdie welpies nie deur hul natuurlike ma grootgemaak word nie, leer hulle nooit hoe om groot katte te wees wat byvoorbeeld kan jag nie.

“Mense wat met leeuwelpies speel, voed die geblikte leeubedryf. Wanneer die welpies groot is en gevaarliker word, beland hulle in die geblikteleeubedryf waar hulle gejag of geslag word en hul beendere na Suidoos-Asië uitgevoer word vir tradisionele Oosterse medisyne.”

Tussen 600 en 700 geblikte leeus word jaarliks in hierdie “jagtogte” vir hul skelette doodgemaak. Die handel in leeubeendere stimuleer die bedryf en stropers teiken dan wilde leeus.

Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van leeubeendere na Suidoos-Asië.

Miles sê die departement van omgewingsake het verlede jaar die uitvoer van 800 leeuskelette na China en ander Oosterse lande goedgekeur.

Volgens Miles bring baie van die leeuplase se eienaars en werknemers besoekers onder die wanindruk dat die welpies later weer in die natuur vrygelaat sal word en dat hul interaksie met mense bewaring bevorder.

“Dit is byna onmoontlik om ’n leeu wat met die hand grootgemaak is, in die natuur vry te laat.”

Sy moedig toeriste aan om eerder ’n ware veilige hawe vir leeus te besoek. By hierdie veilige hawes word geen telery toegelaat nie, maar dit bied ’n tuiste vir leeus wat nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie.

Meer oor:  Four Paws  |  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.