Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Staat se plan met klimaat ‘onvoldoende’

Die regering se huidige konsepwetgewing oor klimaatsverandering is onvoldoende en behoort strenger te wees teenoor besoedelende nywerhede.

In hierdie stadium is dit te tegemoetkomend, sê Nicole Loser, regsgeleerde by die Sentrum vir Omgewingsregte (CER), oor dié konsepwetgewing wat tans in nege provinsies bespreek word.

Suid-Afrika se verbintenis tot die stuiting van klimaatsverandering skiet ver tekort.

Loser sê besoedelende nywerhede moet die omvang van hul uitlaatgasse nóú bekend maak.

Op ’n oorlegplegingsvergadering wat Maandag in Boksburg gehou is, het verteenwoordigers van nywerhede gesê hulle voel gekriminaliseer deur die voorgestelde wetgewing. Lede van die burgerlike gemeenskap het egter gesê daar moet strenger teenoor besoedelende nywerhede opgetree word en hulle moet swaar boetes opgelê word.

Loser, wat verantwoordelik is vir die CER se program oor besoedeling en klimaatsverandering, het gesê al die versagtende beginsels wat die departement van omgewingsake in die konsepwetgewing in die afdeling vir versagting ingesluit het, kan ongedaan gemaak word as besoedelende nywerhede nie tot verantwoording geroep word nie. Dit is ook noodsaaklik dat daar in die konsepwetgewing groter klem gelê word op deursigtigheid oor hierdie besoedeling.

Sy het gesê Suid-Afrika het dringend wetgewing oor klimaatsverandering nodig, omdat die land baie kwesbaar is. Dit is juis waarom dringende optrede nodig is om die land se vrystelling van kweekhuisgasse drasties in te perk.

Loser sê hoewel die konsepwetgewing melding maak dat daar koördinasie oor klimaatsverandering tussen die verskillende regeringsentiteite sal wees, is dit duidelik departemente neem teenstrydige besluite.

Lede van die publiek wat die konsultasievergadering bygewoon het, het gevra of die departement van omgewingsake die Parys-ooreenkoms werklik op die hart dra. ’n Lid van Earthlife Africa het daarop gewys dat die konsultasieproses oor die konsepwetgewing net lippetaal en ’n mors van tyd en geld is.

Nog lede van die publiek het gesê Edna Molewa, minister van omgewingsake, gee voor sy is verbind tot die Parys-ooreenkoms en dat Suid-Afrika ernstig is oor die bekamping van klimaatsverandering, maar sy volhard daarin om omgewingsgoedkeuring vir steenkoolmyne en -kragsentrales te gee. “Dit maak net nie sin nie.”

Volgens Loser het Suid-Afrika nog ’n baie lang pad om te stap voordat hy aan sy beloftes oor klimaatsverandering voldoen. Die land het byvoorbeeld beloof om teen die tweede helfte van die eeu geen kweekhuisgasse in die atmosfeer vry te laat nie. Die regering erken ook dat as die temperatuur van die res van die wêreld met 2 °C styg, Suid-Afrika se temperatuur gemiddeld met 4 °C sal styg.

Suid-Afrika se verbintenis tot die stuiting van klimaatsverandering skiet ver tekort. Daar is ’n groot gaping tussen Suid-Afrika se huidige verbintenis en wat werklik moet gebeur om Suid-Afrikaners teen die ergste klimaatskommelings te beskerm, sê Loser.

As die konsepwetgewing nie duidelike doelwitte stel nie, departemente nie behoorlik met mekaar koördineer nie, en streng moniteringsbeginsels nie ingebou word en wetstoepassing beklemtoon word nie, sal dit nie naastenby voldoende wees om klimaatsverandering in Suid-Afrika doeltreffend te bestry nie.

Geskrewe kommentaar op die voorgestelde wetgewing kan tot 8 Augustus by die departement van omgewingsake ingedien word. Die konsepwetgewing het op 8 Junie in die Staatskoerant verskyn.

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.