Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Staat se planne met olie, gas kwel

Nie-regeringsorganisasies (NRO’s) wat hulle vir omgewingsgeregtigheid en menseregte beywer, verwerp die regering se voorgestelde gas-en-oliewetgewing.

Die Sentrum vir Omgewingsregte (CER), groundWork en Earthlife Africa sê in ’n gesamentlike verklaring dit is duidelik Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, wil dié wetgewing deurdwing en Suid-Afrika, sy mense en die ekonomie “vir dekades” van fossielbrandstowwe afhanklik maak, terwyl die res van die wêreld na hernubare energiebronne oorskakel.

Avena Jacklin, groundWork se energiekenner, het Dinsdag gesê die “rooi ligte oor dié voorgestelde wetgewing het begin flikker” toe dit op Kersaand verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer is. “Ons het net tot 21 Februarie gehad om daarop kommentaar te lewer.”

Jacklin sê 31 NRO’s en individue plaas nou druk op Mantashe om die voorgestelde wetgewing terug te trek en deur wetgewing vir hernubare energie te vervang.

Gwede Mantashe
Gwede Mantashe Foto: Felix Dlangamandla

Die CER sê as die voorgestelde wetgewing deurgevoer word, sal dit beteken Suid-Afrika se maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling sal ondanks die klimaatnoodtoestand steeds van fossielbrandstowwe afhanklik gehou word.

“Dit is duidelik die minister wil olie- en gasproduksie in Suid-Afrika versnel, terwyl die res van die wêreld presies in die teenoorgestelde rigting beweeg.”

Die NRO’s het hul kommer uitgespreek dat in die voorgestelde wetgewing geen melding gemaak word van die staat se plig om toe te sien dat die omgewing beskerm word nie.

Jacklin sê die voorgestelde wetgewing maak geen melding van ekologies sensitiewe gebiede waar geen gas- of olieboordery mag plaasvind nie.

Sy sê talle aansoeke om gas­eksplorasie op land is vir waterryke gebiede.

“Ons kan dit nie bekostig dat maatskappye wat na olie en gas soek, ons waterbronne vernietig nie.”

Met dié voorgestelde wetgewing sal niks maatskappye kan keer om Suid-Afrika se kwesbare omgewing te verwoes nie.

Boonop gee die voorgestelde wetgewing Mantashe die reg om omgewingswetgewing te verontagsaam.

Die CER sê dit beteken dat Mantashe samewerking met Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, sal kan omseil deur die sogenaamde “een omgewingstelsel” te gebruik. (Ingevolge hierdie stelsel keur die departement van minerale bronne omgewingsaansoeke goed, maar kan belanghebbendes by Creecy daarteen appèl aanteken.)

Jacklin wys ook daarop dat skuiwergate in dié wetgewing maatskappye beskerm. “Die burgerlike gemeenskap moet die Wet op die Toegang tot Inligting (Paia) gebruik om inligting oor maatskappye se bedrywighede te kry.”

Bobby Peek, direkteur van groundWork, sê hy meen dié wetgewing is bedoel om Operasie Phakisa (die boor vir olie en gas op land en ter see) ’n hupstoot gee. Geen datums vir openbare vergaderings word aangedui nie.

Meer oor:  Earthlife Africa  |  Gwede Mantashe  |  Gas  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.