Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Staat soek belegger vir pluimvee-projek by Virginia

Die staat soek nou ’n private belegger vir sy pluimvee-projek van R52 miljoen by Virginia in die Vrystaat wat weens voëlgriep gesluit moes word, sê Zimasa Leputla, woordvoerder van die Vrystaatse departement landbou en landelike ontwikkeling.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het vroeër gesê die projek bly ’n teleurstelling vir die 14 vroue en drie mans wat by dié enorme belegging van die Vrystaatse provinsiale regering betrokke is.

Maar Leputla sê Jankielsohn sal nog vorentoe ’n ander deuntjie sing.

Zimasa Leputla Foto: Facebook

“Die projek is nie veronderstel om eiers in sy mandjie te hê nie,” sê sy nadat Jankielsohn gesê het die projek “is ’n groot finansiële mandjie sonder eiers in Virginia”.

Dit is geskep vir die lewering van braaihoenders.

“Ons sê die projek is nie ’n teleurstelling nie. Die hoofdoel van die departement was om daarmee die hoë voorkoms van werkloosheid te beveg. Dit is allereers vir die dorp Virginia. Ons wil seker maak volhoubare werkgeleenthede kan geskep word vir die jeug en vir vroue wat graag by die projek wil werk.”

Sy sê nog oogmerke vir die projek is om voedselsekerheid te skep, om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te verbeter en om ’n bydrae tot die Vrystaat se bruto binnelandse produk te lewer.

“Die belegging in die projek is lang termyn en kan nie as ’n vermorsing beskou word nie. Dit was bedoel om terug te ploeg in die gemeenskap en mense te bemagtig. Die belegging is gedoen om begunstigdes by te staan en om ondersteuning te bied dat hulle hul produksie maksimaal kan uitbrei. Dit was nie om hulle te ontneem van hul avontuur om in die pluimveebedryf ’n bestaan te probeer maak nie.

“Die bedryf het egter sy hoogte- en laagtepunte, en weens die uitbreek van voëlgriep moes die meeste pluimvee-projekte sluit. Sommige daarvan het nog nie weer herstel nie.”

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, op sy toesigbesoek aan die pluimveeplaas in Virginia. Foto: Verskaf

Sy sê in die projek is positiewe mylpale bereik.

Daar was byvoorbeeld ’n mentorskapprogram waardeur die begunstigdes tegniese vaardighede moes kry om braaihoenders vir die markte te lewer.

“Die begunstigdes het verder gegaan en vaardighede gaan leer en uit hul eie sakke vir die programme betaal. Dit wys hoe geesdriftig hulle was. Die mentorskapkontrak is intussen verleng.”

Sy sê wat betref die verlenging van die mentorskapkontrak en adviserende dienste, word die program sedert sy ontstaan ondersteun. Bystand kom ook in die vorm van die mobilisering van vennote, die fasilitering van vergaderings en probleemoplossings. Daar is ook inligtingsdae vir die projek gereël.

“Daar was verskeie opleidingsinisiatiewe waar konsepte soos entrepreneurskap en bemarking aandag geniet het. Een van die begunstigdes is gekies om in 2017 deel te wees van ’n jaarprogram wat deur die

Entrepreneurial and Business Literacy (RPL) Institute aangebied is. Dit is saam met die Universiteit van die Vrystaat aangebied.

Die pluimveeplaas in Virginia waar daar tans niks aangaan nie nadat die Vrystaatse provinsiale regering R52 miljoen daarin belê het. Foto: Verskaf

Sy sê daar is 18 begunstigdes, van wie 15 vroue is. Onder hulle is ook drie mense met gestremdhede. Dit wys dat selfs gemarginaliseerde groepe bemagtig word.

Volgens haar het die finansiële ondersteuning van die projek in 2014-’15 begin. Die departement het gehelp met die oprigting van vier broeihuise met die vermoë vir 40 000 kuikens in elke huis. Die projek is ook omhein, elektrisiteit is aangelê en sekerheidsmaatreëls is ingestel. Dit het in totaal R27 miljoen gekos.

In 2015-’16 is ’n vyfde broeihuis opgerig met die vermoë vir nog 40 000 kuikens. Dit het R13 miljoen gekos.

In 2016-’17 is die projek met die regte toerusting vir produksie teen R9 miljoen uitgebrei.

Dit bly ’n goeie belegging waardeur die begunstigdes ’n bestaan uit die pluimveebedryf kan maak.

Sy sê die projek het vier siklusse tussen 2017 en 2018 gehad. Daar was 30 000 kuikens per huis wat die totaal op 90 000 gebring het. In die tweede siklus was daar 30 000 kuikens per huis in drie huise. In siklus drie, was daar 40 000 kuikens in twee huise. In siklus vier was daar 15 000 in elkeen van die huise.

Sy sê voëlgriep het die projek so ernstig geknou dat dit later gesluit moes word.

“Daar was ook diefstalle en vandalisme op die plaas waar transformators gesteel is.”

’n Ander probleem was dat dit goedkoper geword het om die braaihoenders van buite in te voer. Dit het die mark begin bedreig.

Die projek het wel markte in Gauteng, Limpopo, in die Vrystaat in Odendaalsrus en in Noordwes ontgin, asook plaaslike markte in Virginia self.

“Ons plan is om ’n belegger te kry wat hier kan kom help om die projek uit te brei en saam met ons te werk.”

Meer oor:  Virginia  |  Bloemfontein  |  Vrystaat  |  Vee  |  Pluimvee  |  Vee-Projek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.