Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Stad Kaapstad verklaar oorlog teen klein kewertjies

’n Kewertjie wat kleiner as ’n sesamsaadjie is, hou ’n enorme bedreiging vir die land se bome in. Die Stad Kaapstad het nou oorlog verklaar teen die indringer-kewerspesie wat bome in die metropool en omliggende gebiede bedreig.

Dié geniepsige kewer Euwallacea fornicatus, bekend as die polifere skietgatboorder (PSHB) (polyphagous shot hole borer), kom oorspronklik uit Asië. Dit het reeds duisende bome in ander dele van die land beskadig en vernietig.

Dié geniepsige kewers, bekend as die polifere skietgatboorder (PSHB) (polyphagous shot hole borer) grawe tonnels in bome om sy eiers te lê.Foto: Verskaf
Die kewer, oorspronklik afkomstig uit Asië, is kleiner as ’n sesamsaadjie en bedreig nou ook bome in die Kaap. Foto: Verskaf
’n Gomagtige afskeiding is een van die tekens dat ’n boom met die kewer besmet kan wees. Foto: Verskaf

Die stad se departement ontspanning en parke, in samewerking met die munisipale eenheid vir indringerspesies wil die publiek betrek om die aanslag van die kewerspesie te pak.

Die kewers kan binne ’n relatiewe kort tydperk ’n boom vernietig.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, waarsku dat die skade wat die kewer kan veroorsaak, nie onderskat moet word nie.

“Indringerspesies soos dié word maklik misgekyk omdat mense gewoonlik nie bome inspekteer om te kyk of daar kewers is nie. Dit is belangrik dat die stad se inwoners ingelig is sodat hulle vir die kewer kan uitkyk.”

Badroodien sê die stad is verantwoordelikheid om sy bome te beskerm omdat dit ’n integrale rol in ’n gesonde ekostelsel met belangrike omgewingsvoordele speel.

PSHB-kewers kan ’n verskeidenheid boomsoorte besmet. Hulle grawe tonnels in bome om hul eiers te lê en val eikebome, die meeste wilgerspesies, avokado, sommige akasias en die meeste esdoringbome aan.

Die kewers is draers van ’n swam wat die vaatweefsel van die boom aanval. Dit veroorsaak ’n siekte genaamd, fusarium dieback (FD) wat veroorsaak dat water en voedingstowwe afgesny word.

Metropolitaanse gebiede soos Johannesburg en Durban, sowel as Pietermaritzburg, George en Knysna het reeds duisende bome verloor.

“Die stad werk nou saam met die instituut vir bosbou en landboubiotegnologie aan die Universiteit van Pretoria om te verseker dat die jongste tegnologie gedeel word, en om databanke vir huidige en toekomstige navorsingswerk op te gradeer in ’n poging om die PSHB doeltreffend te beheer,” het Badroodien gesê.

Besmette bome dra duidelik sigbare tekens. Dit sluit in gom op die bas, gaatjies van sowat 2 mm in deursnee met ’n poeieragtige of saagsel-afskeiding en takke wat verwelk of doodgaan.

Die Stad versoek dat die publiek enige waarnemings van die kewer per e-pos aanmeld by Invasive.Species@capetown.gov.za. Dit kan ook telefonies aangemeld word by die tolvrye nommer 0860 103089. skakel.

Vir meer inligting oor die kewers besoek www.invasivescapetown.org.za/shot-hole-borer

Meer oor:  Stad Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.