Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Stand van klimaat lei tot trauma’

Ingeligte Suid-Afrikaners, veral jongmense, ervaar die regering se voortgesette planne om ondanks die klimaatkrisis steeds steenkool te ontgin en te verbrand, as verraad.

Die huidige soektog na gas op land en in die see vererger die gevoelens jeens die huidige regering, het dr. Garret Barwell, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg wat spesialiseer in omgewingstrauma, Dinsdag by die uitreiking van sy verslag “The psychological and mental health consequences of climate change in South Africa” gesê.

Barnwell sê Suid-Afrikaners ervaar op verskeie vlakke reeds dat die klimaat besig is om te verander en dit is vir hulle “traumaties en stresvol”.

“Wanneer gemeenskappe vir hul welstand, veiligheid en gesondheid van die regering afhanklik is en daar is ’n gebrek aan politieke wil om aan die beginsels te voldoen, vind ’n vertrouensbreuk plaas en veroorsaak dit geweldige trauma in die samelewing,” het Barnwell gesê.

Die trauma word vererger wanneer gemeenskappe wéét dat die regering bewus is van die omgewingskade wat sy besluite aanrig, maar voortgaan om die mense se behoeftes aan ’n skoon en gesonde omgewing te minag.

Klimaatsverandering in Suid-Afrika, wat gepaardgaan met droogtes, vloede, brande, voedselonsekerheid en ’n gebrek aan skoon water, kan mense oorweldig laat voel.

Dié gevoelens lei tot neerslagtigheid, hartseer, woede, hopeloosheid, ’n gebrek aan belangstelling in die lewe, ontwrigte slaappatrone, konstante moegheid en gevoelens van waardeloosheid. Mense raak angstig, rusteloos, kry paniekaanvalle, is gedurig bekommerd en sukkel om te konsentreer.

Wanneer gemeenskappe vir hul welstand, veiligheid en gesondheid van die regering afhanklik is en daar is ’n gebrek aan politieke wil om aan die beginsels te voldoen, vind ’n vertrouensbreuk plaas en veroorsaak dit geweldige trauma in die samelewing.

Volgens Barnwell het navorsing gewys ’n styging in temperature lei tot toenemende geweld onder mense.

Sy navorsing wys mense besef dat hulle sielkundige hulp nodig het, maar hulle weet ook dat die regering se gesondheidstelsel hulle in die steek sal laat.

Volgens Barnwell ervaar selfs kinders en jongmense klimaattrauma deur byvoorbeeld beelde te sien van ander dele van die wêreld wat in vlamme opgaan, oorstroom en verdroog.

In die omgewingsliteratuur word na hierdie gevoelens verwys as “klimaatangs”, “klimaattrauma”, “ekologiese verdriet” of “solistalgia”, luidens die verslag.

Kinders en jongmense, dié wat nie onder apartheid gely het nie, ervaar kommer en angs oor die toekoms.

Jongmense is angstig oor ekologiese ineenstorting, finansiële verliese en honger.

Barnwell sê hy is baie bekommerd oor die impak wat klimaatsverandering en omgewingsagteruitgang op vandag se kinders en jongmense het.

“Hulle is die mense wat ’n vernietigde omgewing gaan erf. Dit is daarom so belangrik dat ons as volwassenes daadwerklik optree om klimaatsverandering en omgewingsagteruitgang te probeer stuit.”

Hy wys daarop dat brande, lugbesoedeling en hitte mense nie net angstig maak nie, maar dat dit ook tot die aftakeling van die menslike liggaam lei. Dit lei byvoorbeeld tot asma, hartsiektes en nierkwale.

Hy benadruk wetenskaplikes wêreldwyd is dit eens dat die volgehoue verbranding van fossielbrandstowwe die klimaatkrisis veroorsaak.

Die Wes- en Oos-Kaapse waterkrisis, die wegholbrande van vier jaar gelede in die Tuinroete, oorstromings en vloede in KwaZulu-Natal, die voortdurende droogtes in die Noord- en Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga is reeds bewyse daarvan dat Suid-Afrika in die greep van klimaatsverandering is.

Die verslag is opgestel op versoek van die Sentrum vir Omgewingsregte, African Climate Alliance, groundWork en die Vukani Environmental Movement in Action.

Meer oor:  Klimaatkrisis  |  Garret Barwell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.