Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Stappe na perd se sterfte weens plastiek in vullishoop

Stappe word nou gedoen om twee vullishope in Genadendal en Greyton in die Overberg te beveilig nadat ’n tweejarige perd een van die onlangse slagoffers was van die rommel.

Die perd, wat Lax gedoop is, het ’n ongekende hoeveelheid rommel gevreet op die Greyton-vullishoop en later tussen die vullis inmekaargesak.

Lax lê tussen die vullis nadat sy inmekaargesak het.Foto: Verskaf

Die perd moes baie sterk pynmedikasie kry en geopereer word om plastiek uit haar maag te verwyder, sê Nicola Vernon, stigter van die Greyton Farm Animal Sanctuary.

Veeartse van Vetscape Dierehospitaal naby Franschhoek was geskok om ’n groot hoeveelheid plastiek, waaronder plastieksakke wat van plaaslike winkels afkomstig was.

Vernon het rondom R80 000 ingesamel om die onkostes van die operasie te dek aangesien Lax se eienaar glo skaars kon bekostig om haar te voer.

Vernon sê ’n groot hoeveelheid van die plastiek kon verwyder word, maar die veeartse was nie baie positief dat Lax die operasie gaan oorleef nie.

Van die plastieksakke wat uit Lax se ingewande verwyder is. Veel meer plastiek is deur veeartse verwyder tydens ’n operasie.Foto: Verskaf

“Daar was nog stukke plastiek in haar kolon wat nie uitgehaal kon word nie. ’n Klein plastieksakkie het ook ’n blokkasie veroorsaak toe dit oopgegaan het en kos opgevang het,” sê Vernon.

“Ons was almal so optimisties toe dit lyk of dit beter begin gaan met haar, maar uiteindelik het drie veeartse my aangeraai dat ons haar eerder moet uitsit.

“Dit het haar lyding tot ’n einde laat kom en daaroor is ek dankbaar.”

Vernon sê perde is in ondenkbare pyn wanneer hulle so baie plastiek eet. “Dit veroorsaak maagkrampe wat so erg is dat hulle hul bene kan breek soos hulle krul van pyn.”

Van die items wat Lax gevreet het, sluit in plastieksakke en plastiekverpakking.

Lax kry behandeling voor haar operasie. Foto: Facebook

’n Plaaslike inwoner, Yvette Fourie, sê Lax se verhaal is beslis nie uniek nie. Volgens haar het daar ten minste ses ander perde op ’n soortgelyke wyse gevrek oor die afgelope paar maande.

Fourie verduidelik dat die aanhou van perde ’n tradisie in die plaaslike gemeenskap is, maar dat die eienaars dikwels nie na die perde kan omsien nie. Die perde wei dan net in die dorp rond en beland derhalwe gereeld by die vullishope agter kos aan.

Die vullishoop in Greyton is volgens Fourie omhein, maar daar is ’n hek wat alewig oopgelos word. Die perde kom op dié manier in.

Die vullishoop in Genadendal het gans en al geen omheining nie. Volgens Vernon het kontrakteurs verlede week, ná groot omstredenheid op sosiale media, by die Greyton-vullishoop opgedaag om dit glo in ’n vullis-oordragstasie te verander.

Daar gaan volgens Vernon ook Maandag heinings opgerig word rondom die vullishoop by Genadendal.

“Ons sal een of ander tyd verantwoordelikheid moet neem vir ons vullis,” het Fourie gesê. “Ons afval moet beter bestuur word.”

Fourie het met ’n plan vorendag gekom om beter na die perde om te sien wat sal verhoed dat hulle op so ’n pynlike manier soos Lax vrek.

Sy het reeds ’n organisasie sonder winsbejag registreer en wil donasies kry om ’n veilige hawe vir die perde te skep. Sy wil ’n perseel van tussen 50 en 100 hektaar bekom waar daar voer, water en skuiling vir die perde beskikbaar is.

Die plan is om die toevlugsoord vir perde heeltemal volhoubaar te maak deur byvoorbeeld kompos van perdemis te maak en te verkoop, asook deur die perde beskikbaar te maak vir rehabilitasie van mense of opleiding vir kinders.

Sy glo dit sal lei tot werkskepping en dit sal verseker dat die perde gesonde en vol lewens kan lei.

“Ek sukkel nog om die grond te bekom wat nodig is vir hierdie projek. Die donateurs staan reg, maar ek het eers die grondregte nodig,” sê sy.

Sy sê ’n volledige uiteensetting van haar plan met die projek is reeds aan die plaaslike munisipaliteit voorgelê, maar sy wag nog vir terugvoer.

Meer oor:  Genadendal  |  Greyton  |  Perd  |  Plastiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.