Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Stop boordery in Kavango-bekken, eis WWF

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het Donderdag sy kommer uitgespreek oor die Kanadese maatskappy Reconnaissance­ Energy Namibia (ReconAfrica), wat ’n “beperkte omgewingsimpakstudie” in die Kavango-bekken gedoen en kort daarna met boordery in dié sensitiewe gebied begin het in sy soektog na olie en gas.

Die WWF sê in ’n verklaring die omgewingsimpakstudie wat ReconAfrica gedoen het, skiet ver te kort. Die organisasie doen daarom ’n beroep op die Kanadese maatskappy om sy bedrywighede te staak en ’n “omvattende strategiese omgewingsimpakstudie te doen” wat sowel Namibië as Bo­tswana insluit.

Fossielbrandstowwe

“Dit klink asof ReconAfrica meen hy kan voortgaan met sy soektog na fossielbrandstowwe terwyl hy nie die wyer, massiewe impak daarvan in ag neem nie.”

Die WWF sê die Kavango-bekken is groot en die hidrologie is kompleks en daarom moet ’n behoorlike omgewingsimpakstudie gedoen word wat die hele Okavango-delta insluit en wat inwoners van sowel Namibië as Botswana by die proses betrek.

“ReconAfrica se benadering kan potensieel groot skade aan die biodiversiteit en waterbronne van die hele gebied aanrig.

Onafhanklike kenners nodig

“As die boordery voortgaan, kan dit later te laat wees om die potensiële skade om te draai,” waarsku die WWF.

Die WWF dring ook daarop aan dat onafhanklike kenners by die proses betrek word.

In ag genome dat die Okavango-delta oor twee landsgrense heen strek en ReconAfrica tans sy visier op die opvangsgebied het, is dit noodsaaklik dat die inwoners van Botswana ook betrek word.

ReconAfrica verkla

Intussen het Rob Parker, lid van Frack Free Namibia en Bo­tswana, ReconAfrica by die Kanadese regering verkla en gevra dat dié land se ombudsman vir verantwoordelike oorsese maatskappye moet ingryp om die maatskappy se werksaamhede te help keer. Volgens Parker streef Kanada daarna om teen 2050 koolstofneutraal te wees, maar laat hy sy maatskappye toe om Afrikalande se waardevolle natuurlike hulpbronne te vernietig.

Volgens Parker het ReconAfrica nie ’n behoorlike oorlegplegingsproses gevolg nie. Die San-mense en die inheemse mense van die noordooste van Namibië is glo glad nie van die maatskappy se planne in kennis gestel nie.

Volgens Parker praat die maatskappy uit twee monde en sê hy aan sy beleggers daar gaan dalk hidrobreking plaasvind, terwyl hy aan die mense in Namibië sê daar gaan “géén hidrobreking” plaasvind nie.

Parker sê niemand in die Kanadese regering het op sy skrywe gereageer nie. “Ons sal nie ophou om hierdie kwessie aan die groot klok te hang nie,” sê hy.

Dr. Sindila Mwiya, omgewingskonsultant, het vroeër gesê ReconAfrica het al ’n prospekteerlisensie vir gas en olie van Namibië se departement van mynbou en energie gekry. Volgens haar het die Namibiese departement van omgewingsake en toerisme die voorimpakverslag goedgekeur.

Luidens die omgewingsimpakstudie beslaan die gebied, waar die gate in die Kavango-kom geboor gaan word, 25 342 km². Dit is deel van die groter Etosha-bekken in die noorde van Namibië.

Meer oor:  Wwf  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.