Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Straf renosterstropers swaar, vra optoggangers

Oos-Kaapse politici en omgewingsbewustes het Maandagoggend saam teen renosterstropery in die provinsie geprotesteer.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het die optog deur die strate van Makhanda (voorheen Grahamstad) na die plaaslike hooggeregshof gelei.

'n Renoster. Foto: Argief

Voor die hof is plakkate geswaai met foto’s van verminkte renosters nadat hul horings gestroop is en ander waarop geregtigheid geëis word.

Jabulani Ndlovu, Forget Ndlovu en Skhumbuzo Ndlovu, drie vermeende renosterstropers, gaan in die hooggeregshof verskyn. Die drie is in 2016 net buite die dorp met ’n 72cm lange “vars” renosterhoring in hul besit betrap.

Mabuyane het gesê renosterstropers hou nie net ’n gevaar en bedreiging vir die diere in nie, maar ook vir die gemeenskap en die provinsie se toerisme.

“Wanneer hulle ons renosters vat, jaag hulle ons toeriste weg en dit het ekonomiese implikasies.”

Vanjaar is 18 renosters in die Oos-Kaap reeds vir hul horings doodgemaak. In 2016 is 19 renosters doodgemaak – die meeste nog in een jaar in die Oos-Kaap.

Volgens Div de Villiers, hoof van die Oos-Kaapse Groen Skerpioene, is die eerste renoster weens stropery in 2008 in die provinsie doodgemaak. ’n Dekade later is meer as 100 renosters in die provinsie gestroop.

Maar daar is hoop vir die Oos-Kaap in die “renoster-oorlog”, meen De Villiers.

“Vandag se optog, die opkoms van mense en leiers in die provinsie, bewys dat ons mense saamstaan teen stropery. En ons as natuurbewaring, die polisie en boere werk saam om die stropery hier stop te sit.”

De Villiers het die aankeer van die drie Ndlovus as een van die grootste suksesse teen stropery in die provinsie bestempel.

Want om verdagtes vry te laat weens ’n gebrek aan voldoende bewyse, help ons nie.

Ook Vuyani Dayimani, hoof van die Oos-Kaapse Parke-en- Toerisme-agentskap, het gesê die inhegtenisnemings is ’n groot deurbraak, en dit is net so belangrik dat hulle skuldig bevind word.

“Want om verdagtes vry te laat weens ’n gebrek aan voldoende bewyse, help ons nie.

“Slegs skuldigbevindings sal tot die ontwrigting van die stropery lei. Met mense agter tralies word die planne van die sleutelfigure in die stropery omvergegooi.

“ ’n Swaar vonnis vir stropers sal ’n oorwinning vir natuurbewaring en die beskerming van renosters wees. Dit sal stropers leer dat ’n lewe van stropery tot ’n lewe in die tronk lei.”

Mabuyane het ’n beroep op die nasionale vervolgingsgesag gedoen om die drie swaar vonnisse op te lê as hulle skuldig word.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Makhanda  |  Grahamstad  |  Renosterstropery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.