Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Stropers het inkopielys van plase’

Stropers wat die afgelope maande op Noordwes-leeuplase toegeslaan het, werk skynbaar van ’n “inkopielys” af.

Adam Fowls, ’n leeuboer naby Brits wie se leeus ’n paar maande gelede gestroop is, by van die bedreigde plantmateriaal by Klaas Lebese se stalletjie. Foto: Deon Raath

’n Lys met leeuboere se GPS-koördinate is dalk by die departement van omgewingsake uitgelek of verkoop. Dit is Adam Fowls, ’n leeuboer en lid van die renosterbewaringsinisiatief, se afleiding nadat vier van sy leeus se koppe en pote afgekap is.

Hy is een van ten minste agt leeu-eienaars wat laat verlede jaar binne ’n maand geteiken is.

Boere kon uit die spore vasstel die stropers het GPS-koördinate gebruik. Dié plase se koördinate is vir die doel van inspeksies tot die departement se beskikking.

“Die eerste voorval was in Oktober in die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria, kort ná die departement natuurbewaring die plase vir inspeksies besoek het,” sê Fowls.

Twee maande ná die inspeksie is vier leeus op Fowls se plaas gestroop. Volgens hom word dele van gestroopte leeus vir moetie gebruik, maar word koppe en pote aan internasionale misdaad gekoppel. “Hulle vat die dele omdat hulle nie die hele karkas internasionaal kan smokkel nie.”

Op Gert Blom se Predators Rock Bush Lodge naby Rustenburg is ses leeus se pote en snoete afgekap.

In Brits se sakekern verkoop Klaas Lebese (56) dele van diere en plante wat ingevolge die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies van wilde fauna en flora (Cites) hoogs bedreigde spesies is.

In dié geregistreerde tradisionele geneesheer se stalletjie is pote van die hoogs bedreigde ietermagog, kameelperdbene, bobbejaanhande en krokodilstert te koop. Hy sê sy produkte kan enigiets van gebreekte bene tot kanker en impotensie genees. “Jy maak biltong van ’n ietermagog vir ’n man met erektiele disfunksie. Binne drie, vier minute staan die man reg.”

Lebese het swart en wit kliënte, en hy glo nie sy verskaffers stroop diere nie. “Ek koop nie vars goed nie, dit moet so drie of vier jaar oud wees.”

Peter Mbelengwa, woordvoerder van die departement van omgewing, bosbou en visserye, sê hulle weet nie van ’n aantyging dat inligting gelek het nie. Volgens hom kan tradisionele geneeshere vir ’n permit vir sekere aktiwiteite aansoek doen waarby beskermde spesies nie betrokke is nie.

Prof. Ray Jansen van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie se departement van omgewings-, water- en aardwetenskap sê: “Sodra ’n geldwaarde aan produkte gekoppel word, val dit nie meer onder wetgewing wat regte aan dié geneeshere verleen nie.”

Volgens Nicci Wright, direkteur van die Johannesburg Wildlife Vet, is tradisionele medisyne ’n diepgewortelde geloofstelsel. “Mens moet by kinders begin en hulle opvoed. San­gomas op dorpies sal bietjie-bietjie diereprodukte en boombas versamel. Die ouer geneeshere gebruik volhoubaar, maar deesdae is daar mense wat voltyds versamel net vir geldelike gewin. Sangomas word nie in geld betaal nie, dit is vir hulle ’n roeping.”

Jansen sê die stroop van renosters, ietermagogs en leeus gaan nie meer oor tradisie nie. “Die regering doen niks om dit stop te sit nie en howe laat stropers vry. Dit is wêreldwye gulsigheid.”

Mbelengwa sê: “Nasionale en provinsiale bewaringsowerhede stel amptenare in staat om wildlewe-misdaad te hanteer en hulle werk nou saam met die polisie om die stroop en smokkel van die spesies te beveg.”

Meer oor:  Ray Jansen  |  Rustenburg  |  Stropers  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.