Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Stropers slaan straks weer toe wanneer vlugte hervat
Witrenosters in die Krugerwildtuin. Foto: Marguerite le Roux

Wêreldrenosterdag is Dinsdag gevier.

Hoewel minder renosters vanjaar tydens die inperking gestroop is, kan renosters se voortbestaan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, sê in ’n verklaring sewe geïntegreerde natuurlewesones gaan in Suid-Afrika bekendgestel word om renosters in die land te beskerm.

Dié sones is ’n uitbreiding van soortgelyke beskermingsones wat voorheen in nasionale en provinsiale parke gebruik is. Die nuwe benadering moet samewerking tussen die staat en private rolspelers verseker.

Creecy sê die projek verhoed dat grense die beplanning en implementering van optrede wat renosterstroping en die smokkel van renosterhorings bekamp, bemoeilik.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye. Foto: Jabu Kumalo

Dit het ten doel om proaktiewe optrede vir die verskillende partye wat betrokke is, te vergemaklik.

Kobus de Wet, hoof van Sanparke se omgewingsmisdaad-ondersoekeenheid, sê renosterstropery het sedert die inperkingsmaatreëls in Maart vanjaar afgekondig is, drasties afgeneem.

Die gevalle het in Junie skerp gestyg, maar in Julie en Augustus weer afgeplat.

De Wet sê teenstropingseenhede berei hulle voor vir wanneer die inperkingsregulasies wegval, wat moontlik weer tot ’n styging in stropery sal lei.

“Tydens die inperking was daar nie vlugte nie en kon produkte nie die markte bereik nie. Ons berei voor vir wanneer vlugte hervat word,” sê De Wet.

Hy sê die smokkelnetwerke het tydens die inperkingstyd van vragvliegtuigroetes uit Mosambiek na die O.R. Tambo-lughawe gebruik gemaak.

“Die teenstropingseenheid se aanhoudende aanslag op stropernetwerke speel ’n groot rol,” sê De Wet.

De Wet sê stropers het nie ’n voorkeur vir horings van wit- of swartrenosters nie. Witrenosters wei in die oop veld en is nie so aggressief soos die swartrenosters wat bosagtige landskappe verkies nie.

Hy skryf die sukses toe aan goeie samewerking tussen verskillende wetstoepassingsagentskappe en die bestuur van die nasionale, provinsiale en private parke waar daar renosters is.

Rolspelers in Namibië, Mosambiek, Swaziland, Botswana en Zimbabwe het ’n gesamentlike DNS-databank by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus. Daar is wêreldleiers, soos dr. Cindy Harper, wat met renoster-DNS help.

Die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies is ook deel van die netwerk.

Netwerk24 het voorheen berig die departement het in Februarie gesê 594 renosters is in 2019 gestroop, 769 in 2018 en 1 215 in 2014.

Dit het stadig begin en baie harde werk en toewyding van die vennote geverg. Nou begin ons die resultate sien waarvoor ons gehoop het.

Creecy het in Februarie gesê die afname in stropery vir vyf agtereenvolgende jare wys op die goeie werk van die mense wat hul lewe waag om renosters te beskerm.

In 2019 is 178 stropers in die Krugerwildtuin aangekeer en nasionaal is 332 gevang.

Die WWF het Dinsdag bekend gemaak dat 13 renosterkalfies reeds in 2020 op terreine van hul projek vir die uitbreiding van swartrenosterverspreiding (BRREP) in Suid-Afrika en Malawi gebore is. Twee van die kalfies is kleinkinders van renosters wat voorheen geskuif is om nuwe bevolkings te vestig.

“Dit is hoekom die WWF bykans twee dekades gelede ’n vennootskap met Ezemvelo KZN Wildlife begin het,” sê dr. Jacques Flamand, die WWF se projekleier.

“Ons het besluit om die verspreidingsgebied van swartrenosters te vergroot om die geboortes te vermeerder en so die getalle van dié kritiek bedreigde spesie te verhoog. Dit het stadig begin en baie harde werk en toewyding van die vennote geverg. Nou begin ons die resultate sien waarvoor ons gehoop het.”

Daar is sowat 270 swartrenosters op die projek se 13 vennootterreine. Die eerste groep swartrenosters is in 2019 na die Liwonde Nasionale Park in Malawi verskuif. Dit was die grootste verskuiwing per vliegtuig van swartrenosters nóg.

Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters. Foto: Nelius Rademan

Ezemvelo KZN Wildlife, African Parks, WWF SA en die Malawiese departement van nasionale parke en natuurlewe het saam aan dié projek gewerk. Twee van dié renosters het reeds kalfies.

Daar is nou sowat 5 500 wilde swartrenosters, teenoor 25 jaar gelede toe daar net sowat 2 500 swartrenosters in die natuur oor was.

Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters, sê dié organisasie het baie sterk bande met teenstropingspogings in Sanparke, veral vir renosters.

Hy sê hulle ondersteun die K9-hondeprojek deur fondse vir die aankoop, opleiding, ensomeer van die honde te gee.

Daar is ook ’n perdeprojek.

Colditz is opgewonde oor die Embrace-projek wat daargestel is om veldwagters met meer kennis toe te rus omdat die nuwe oorlog teen stroping nuwe vereistes stel.

Gevegskuns was byvoorbeeld nie voorheen so ’n groot deel van veldwagters se lewe nie en die “oorlog” veroorsaak meer stressituasies vir veldwagters en hul gesinne.

Die projek bied emosionele en sielkundige ondersteuning, vaardigheidsontwikkeling en algemene menslike ondersteuning.

Die Sanparke-ereveldwagters gee ook vir veldwagters die nodige kampeertoerusting, toerusting vir die bestryding van stroping en brandstof vir Sanparke se lugvleuel.

??#WorldRhinoDay ?????? ???? ?????????? ???????? ???? ???????? ?????????? ???????????? The rhino poaching crisis has been ongoing for over a decade...

Posted by Endangered Wildlife Trust on Tuesday, 22 September 2020

Today, 22 September is World Rhino Day and celebrates all five species of rhino: Black, white, greater one-horned,...

Posted by SANParks Honorary Rangers on Tuesday, 22 September 2020
Vinnige feite

• Swartrenoster

Die kritiek bedreigde dier leef ongeveer 40 jaar. Hulle vreet blare, takke en dorings. Bulle kan 730 tot 970 kg weeg en koeie is effens swaarder en weeg tussen 760 en 1 000 kg. Hulle is kleiner as witrenosters. Die bolip is gepunt.

• Witrenoster

Witrenosters is ook ’n kritiek bedreigde spesie en leef tot ongeveer 45 jaar. Hul bekke is breed en vierkantig. Die bulle weeg tussen 2 000 en 2 300 kg en die koeie tussen 1 400 en 1 600 kg.


Meer oor:  Sanparke  |  Wwf  |  Paul Colditz  |  Barbara Creecy  |  Mosambiek  |  Suid-Afrika  |  Renosters  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.