Die ineenstorting van ekotoerisme weens Covid-19 in Afrika bedreig die inkomste van gemeenskappe wat langs natuurreservate woon en die voortbestaan van die vasteland se wildlewe.
Só het die bewaringsorganisasie, Natural Capital Coalition (NCC), eergister gesê.
“Van Kenia tot die Seychelle begin dit duidelik word dat Covid-19 ekotoerisme ’n slag toegedien het. Vrese bestaan nou dat die verlies aan inkomste wat deur ekotoerisme verdien word in ’n dodelike kringloop kan ontaard.”
Nico Jacobs, uitvoerende hoof van Rhino 911, het gister gesê veldwagters doen hul bes om stropery in die land se natuurreservate te voorkom, maar toeriste, wat in baie gevalle “hul oë en ore” is, is nou weg. “Die veldwagters wat nie in Maart weens vrees vir Covid-19 huis te gegaan het nie, sukkel verskriklik omdat hulle feitlik dag en nag moet werk en hul kollegas nie kan terugkeer na die reservate toe nie. Dit is ook duidelik dat die verlies aan inkomste sy tol by reservate begin eis.”
Nege renosters is sedert die grendeltyd begin het in Suid-Afrika gestroop.
Hy sê hul span het die afgelope maand vier renosterkalwers in Noordwes na renosterweeshuise gebring nadat hul ma’s gestroop is. “Renosterstropery, veral in private natuurreservate, gaan voort. Die grendeltyd het stropers nie afgeskrik nie. Inteendeel, hulle steur hulle nie aan die bedreiging van Covid-19 nie.”
AFP het vandeesweek berig nege renosters is sedert die grendeltyd begin het in Suid-Afrika gestroop.
Jacobs sê daar is beslis ’n toename in die stropery van bokke, soos koedoes en rooibokke, asook vis. “Die mense is honger. Dit wat die mense nie eet nie, verkoop hulle.”
Hy en sy span het onlangs ’n net wat sowat 3 km lank is uit die Rooikopjesdam in Noordwes gehaal waar mense onwettig vis gevang het.
Hoewel Sanparke ontken dat stropery in nasionale parke weens die val in ekotoerisme toegeneem het, het dit wel in ander dele van Afrika toegeneem.
In die Virunga National Park in die Demokratiese Republiek van die Kongo het stropers verlede week toegeslaan en 12 veldwagters en ’n bestuurder van ’n voertuig doodgeskiet. Al die veldwagters was jonger as 30.
Virunga is die oudste nasionale park in Afrika en huisves die beroemde berggorilla. Geen gorillas is na verneem word gestroop nie.
Mike Barrett, uitvoerende direkteur van wetenskap en bewaring by die Wêreldnatuurfonds, het eergister aan The Guardian gesê dit is “goed en reg” dat die fokus nou daarop geplaas word dat mense in die lig van Covid-19 gered word. “In die plekke waar ons egter werk en waar mense van die inkomste van ekotoerisme afhanklik is, het ons al die vernietigende ekonomiese impak (van die grendeltyd) gesien.”
’n Betroubare bron in Botswana het gesê dié land se regering skuif sy swartrenosters van Chief’s Island weg van stropers af en is ook besig met ’n grootskeepse onthoringsproses.
Drie renosters is vandeesweek in die Okavango-delta gestroop. Die verskuiwing van die diere is genoodsaak nadat ses in Maart op Chief’s Island gestroop is. Die Botswana-regering het in ’n verklaring gesê hy het sy teenstro- pingspogings verskerp in die lig van die afwesigheid van toeriste.
Dickson Kaelo, uitvoerende hoof van die Kenia Wildlife Conservancies Association, sê aan The Guardian alle besprekings vir vanjaar se wildebeesmigrasie in die Masai Mara is gekanselleer. Dit bring finansiële uitdagings vir bewaringsgebiede in Kenia.