WAARSKUWING: Hierdie berig bevat foto's wat sommige lesers kan ontstel.
Namibiërs sien rooi nadat ’n Suid-Afrikaner, moontlik van Augrabies, twee robbe aan die Namibiese kus, noord van Hentiesbaai, glo doodgery het.
Die man, wat moontlik as P. Dippenaar bekend staan, se voertuig se een nommerplaat het op die plek afgebreek waar die robbe doodgery is. Agterop die Noord-Kaapse nommerplaat is ’n etiket waarop P. Dippenaar geskryf is.
Fritz Kauffmann het in ’n inskrywing op die Facebook-blad Intelligence Support Against Poaching (ISAP) foto’s van die dooie robbe, die bloedmerke in die sand en die nommerplaat geplaas. Kauffman vra die gemeenskap om te help om die verdagte op te spoor.
Die versoek is wyd op Facebook gedeel en die Suid-Afrikaanse owerhede gaan glo genader word om te help om die vermeende skuldige vas te trek.
Die voertuig waarmee die robbe doodgery is, is na bewering ’n silwerkleurige Toyota Land Cruiser.
ISAP het ’n beloning van N$1 000 uitgeloof om die skuldige op te spoor.

Die agterkant van die nommerplaat wat gevind is waar twee robbe doodgery is. Foto: Facebook

’n Landkaart wat aandui waar die robbe doodgery is, wys dit is sowat 31 km noord van Hentiesbaai.Foto: Facebook

’n Dooie rob met die nommerplaat van ’n voertuig wat afgebreek het op die plek waar die rob doodgery is.Foto: Facebook

Die merke en bloed kan duidelik in die sand gesien word.Foto: Facebook