Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Suur druiwe, sê boer in bekgeveg oor storting van dooie kuikens
Die dooie kuikens en eierdoppe wat volgens Riaan Niemand onwettig gestort word.Foto: Verskaf

’n Boer van Dealesville, Riaan Niemand, sê ’n bekende hoenderteler stort onwettig eierdoppe en dooie kuikens in die veld.

Abor Acres Hatchery ontken egter sy aantygings en sê alle wette word nagekom.

Abor Acres teel die broeipare wat deur ander hoenderplase gebruik word om braaikuikens te teel wat dan weer aan hoenderboere verkoop word.

Niemand sê hy het drie jaar lank ’n plaas gehuur waarop die biologiese afval van die hoenderplaas gestort word.

Volgens Niemand is die stank hier ondraaglik.

Hy sê die grondeienaar se seun, Riaan van Rensburg, het aan hom gesê die eierdoppe word as bemesting in landerye ingewerk.

Hy sê die stank is egter onuitstaanbaar en ’n mens kan nie naby die plek kom waar die doppe, asook dooie kuikens, gestort word nie.

Kraaie, hadedas, skoorsteenveërs en ander voëls sak glo gereeld op die vrot spul toe.

Hy sê duisende dooie kuikens word hier gestort en deur voëls opgevreet.

Niemand is ook bekommerd omdat die watertafel in die gebied baie laag is en hy vrees die grondwater kan so besoedel word.

Volgens Niemand was die Vrystaatse departement van omgewingsake nie gretig om die voorval te ondersoek nie en word hy van bakboord na stuurboord gestuur.

Van Rensburg, wie se ma, Bellie, die grond aan Niemand verhuur het, sê egter Niemand het suur druiwe omdat sy ma nie die huurkontrak wou verleng nie.

Volgens Van Rensburg het Niemand nooit in die drie jaar gekla nie, maar nou wil hy klagte indien.

Hy sê die doppe en ’n vloeibare mengsel waarin die dooie kuikens en bedorwe eiers gemaal is, word op die plaas afgelaai waarna hy dit met kalk bedek en inploeg.

Die bakkie wat glo die bio-afval stort.Foto: Verskaf

Hy sê ook hy het nog nooit gesien dat soveel dooie kuikens gestort word nie en betwyfel dit dat die foto’s wat verskaf is, op sy ma se plaas geneem is.

“Hy was so kwaad omdat my ma nie die huurkontrak wil verleng nie, hy het selfs die lyndrade afgebreek,” sê Van Rensburg.

Arno van der Nat, hoofbestuurder van Abor Acres Hatchery, sê volgens wet mag ’n broeiplaas 10 kubieke meter biomateriaal self verwerk en stort, maar dat dit aan sekere wetlike vereistes moet voldoen.

Daar word volgens hom gereeld omgewingsimpakstudies uitgevoer.

Van der Nat sê die plaas het ’n kontrak met Van Rensburg om die bioafval reg te verwerk en dat Van Rensburg by die wetlike voorskrifte hou.

Van der Nat sê Niemand, wat die huurder was, het nooit Arbor Acres ingelig dat die kuikens en eiers onwettig gestort word nie.

“Hoekom het hy dan toegelaat dat die storting vir drie jaar lank op sy huurgrond plaasvind?”

Volgens hom voer die departement gereeld inspeksies uit om toe te sien dat alles wettig is.

Hy sê die grondwater in die omgewing word elke ses maande getoets en daar is nie enige besoedeling nie.

Die departement van water en sanitasie doen dié toetse.

Van der Nat sê satellietfoto’s wat wit kolle op die grond wys, is weens die kalk en dit is nie eierdoppe en dooie kuikens nie.

Meer oor:  Dealesville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.