Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Swaar reën oor dele van land duur voort

Swaar reën wat oor die Paasnaweek oor groot dele van die land uitgesak het, sal na verwagting in verskeie provinsies tot Woensdag voortduur.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Dinsdag ’n waarskuwing uitgereik vir moontlike oorstromings in die Oos-Kaap, die Vrystaat, die suidelike dele van KwaZulu-Natal, die westelike dele van Noordwes, die sentrale Karoo en die Suidkus in die Wes-Kaap.

“Ons waarsku veral leerlinge wat ná die Paasnaweek terugkeer skool toe om versigtig te wees wanneer hulle riviere of strome oorsteek,” lui ’n verklaring van die SAWD.

Die swaar reën is weens ’n afsnylaagdrukstelsel wat deur die loop van die naweek oor die land inbeweeg het en wat koeler temperature meebring, sê Edward Engelbrecht, weervoorspeller by die SAWD.

Die koue weer kan ook deels toegeskryf word aan ligte sneeu wat oor die naweek aan die Lesotho-kant van die Drakensberge geval het.

Volgens Engelbrecht het die meeste reën oor die naweek in die sentrale dele van die Vrystaat en aan die kus tussen Oos-Londen in die Oos-Kaap en Richardsbaai in KwaZulu-Natal uitgesak.

In Koffiebaai in die Wildekus-gebied van die Oos-Kaap is meer as 100 mm binne 24 uur sedert Sondagaand gemeet.

Hoewel die SAWD geen waarskuwing vir oorstroming in Gauteng uitgereik het nie, is daar Dinsdag steeds ’n groot kans vir reën in die suidelike dele van dié provinsie waar hael en swaar reën erge skade aangerig het.

Saterdag het ’n gedeelte van die dak van die Clearwater Mall in Roodepoort aan die Wes-Rand ineengestort.

Sonja Meyer, DA-raadslid in Strubensvallei, sê die dak het naby een van die ingange in ’n parkeerterrein meegegee.

“Dit het in ’n kort tyd swaar gehael, wat vermoedelik die oorsaak is,” sê Meyer.

Niemand is beseer nie.

Die bestuur van die winkelsentrum het volgens Meyer reeds die parkeerterrein waar die dak beskadig is, afgesper en herstelwerk sal na verwagting Dinsdag begin.

In nog ’n voorval het verskeie huise in die Tulbagh- en Mooirivier-woonkompleks in Brackendowns aan die Oos-Rand Saterdag vloedskade opgedoen.

Volgens Natasha Luis, ’n inwoner van die Tulbagh-woonkompleks, was die leefvertrekke van verskeie inwoners se huise onder water.

“Die water was op plekke diep genoeg dat iemand kon verdrink,” sê sy.

Malcolm Maifala, DA-raadslid in dié gebied, sê die vermoede is dat hael die stormwaterpype van die twee woonkomplekse verstop het.

Dié seun geniet ondanks die reënweer dit gate uit by die Randse Skou by Nasrec, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

In Kaapstad word ’n sterk suidoostewind van tot 40 km/h verwag.

Stormsterk rukwinde het gisteroggend daartoe gelei dat ’n vragmotor buite die Hugenote-tonnel aan die Paarl se kant omgeslaan en groot verkeersontwrigting veroorsaak het. Die wind het tussen 100 km/h en 120 km/h by die tonnel gewaai.

Swaar reën wat tot oorstromings kan lei, word vandag in die Beaufort-Wes-omgewing verwag.

’n Vragmotor wat deur die wind omgewaai is, versper die pad buite die Hugenote-tonnel aan die Paarl se kant. Foto: Jaco Marais

In die Oos-Kaap is daar ’n 60%-kans op reën in die grootste deel van die provinsie, met koel weer en ’n sterk oostewind wat tot 40 km/h kan haal.

Vir Port Elizabeth word ’n maksimum temperatuur van 20 °C voorspel.

In Port St. Johns, Mthatha en Queenstown is daar ook vanmiddag ’n 60%- tot 80%-kans op reën en donderbuie.

Swaar reën word aan die suidkus en in die binneland tussen die Visrivier en Port Edward verwag en oorstromings kan vandag in gebiede oos van Cannon Rocks voorkom.

Meer oor:  Vloed  |  Storms  |  Vloedskade  |  Swaar Reën  |  Paasnaweek  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.