Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Swartrenoster se toekoms in die weegskaal, wys studie

’n Nuwe strategie van bewaring is nodig om die swartrenoster van uitwissing te red.

Dit is die bevinding van ’n nuwe studie deur ’n span internasionale navorsers, onder wie ook dié van die Nasionale Dieretuin in Pretoria, wat vir die eerste keer die gene vergelyk het van alle lewende en swartrenosters wat reeds uitgesterf het.

Die nuwe data toon dat die toekoms van swartrenosters somber is tensy die bewaring van geneties onderskeibare bevolkings ’n prioriteit gemaak word.

DNS-monsters van swartrenosters, wat reeds uitgesterf en in museums oor die wêreld heen gehuisves is, is met swartrenosters in die natuur in die studie vergelyk.

Vel van die swartrenosters in museums is geneem en met weefsel en fekale monsters van die lewende renosters vergelyk.

Die navorsing wat pas in die vakjoernaal Scientific Reports gepubliseer is, het bevind daar is ’n verbysterende verlies van 69% van die spesie se genetiese variasie.

Prof. Antoinette Kotze, bestuurder van die dieretuin se navorsingsdepartement en wetenskaplike dienste, sê daar is ’n afname in genetiese diversiteit met 44 van die 64 swartrenoster-afstammelinge wat nie meer bestaan nie.

’n Swartrenoster in die Nasionale Dieretuin in Pretoria gaap te lekker. Foto: Theana Breugem

Kotze het die Suid-Afrikaanse komponent van die studie in die vroeë 2000 begin.

Dr. Desire Dalton, senior navorser van die dieretuin en ’n medewerker van die navorsingstuk, sê dié verlies in genetiese diversiteit kan die renoster se vermoë belemmer om by klimaatsverandering aan te pas.

Volgens die studie bestaan daar twee onderskeie swartrenosterbevolkings aan albei kante van die Zambezirivier.

“Die bevolkings wat van mekaar verskil moet apart bestuur word om sodoende hul genetiese diversiteit te bewaar,” sê Dalton.

Prof. Mike Bruford van die Universiteit van Cardiff se skool van biowetenskappe en wie ook deel was van die studie sê: “Ons bevindings onthul dat jag en verlies aan habitat die evolusionêre potensiaal van die swartrenoster oor die afgelope 200 jaar verminder het.

“Die grootte van die verlies in genetiese diversiteit het ons regtig verras. Ons het nie verwag dat dit so onpeilbaar sou wees nie.”

Swartrenosters is in verskeie dele van Afrika gejag en kom nou net in Tanzanië, Zimbabwe, Kenia, Namibië en die meeste in Suid-Afrika voor.

Die studie benadruk verder dat daar ’n einde aan stropery, wat nog meer druk op genetiese diversiteit van die spesie plaas, gemaak moet word.

Selfs ’n uitbreek van ’n siekte, wat tot die uitwissing van ’n spesifieke genetiese afstammeling van die swartrenoster kan lei, kan volgens die studie katastrofies vir die spesie wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.