
Die kanaal wat in die Hartenbosrivier gegrawe is. Foto: Eugene Gunning
Swem by die monding van die Hartenbosrivier is steeds verbode.
Hoë vlakke van ammoniak in die water van dié rivier het onlangs tot visvrektes gelei, maar die situasie is besig om te verbeter.
Dirk Kotzé, Mosselbaai se onderburgemeester, sê dit is weens ’n sameloop van omstandighede. Dit is veroorsaak deur ongewenste stowwe, insluitende diesel, wat in die munisipale rioolstelsel beland het.
Een van die reaktors het onklaar geraak en volgens Kotzé het die druk op die oorblywende reaktor daartoe gelei dat die ammoniak-vlakke in die behandelde water nie tot die verlangde vlak verminder kon word nie.
“Die probleme by die aanleg is intussen opgelos, en hoewel dit nog ongeveer ’n week sal neem vir die ammoniak-vlakke om te normaliseer, is daar reeds ’n groot verbetering,” sê hy.
Volgens hom wys toetse dat die ammoniak-vlakke in die water by die riviermonding weer normaal is. Hoër op in die rivier, by die ou brug, is vlakke baie naby aan die toegelate perk wat deur die departement van waterwese en sanitasie voorgeskryf word.

Dirk Kotzé, Mosselbaai se onderburgemeester. Foto: Eugene Gunning
“Die oopmaak van die riviermonding deur die munisipaliteit, asook water wat uit die Hartbeeskuildam in die rivier ingelaat is, het bygedra tot die verbetering.
“Die kanaal wat van die monding na die see gegrawe is, lei daartoe dat seewater tydens hooggety in die rivier opstoot en dus gesonder toestande veroorsaak.”
Volgens Kotzé word die situasie daagliks gemonitor. “Sodra ons 100% tevrede is, sal dit weer oopgestel word. Ons wil 100% seker maak daar is geen risiko nie.”