Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Talle Vrystaatse damme loop oor
Die Kugersdriftdam, in die Modderrivier buite Bloemfontein, oomblikke nadat die water oor die damwal begin vloei.Foto: Verskaf

Die Vrystaat se damme en riviere is vol en vir die eerste keer in jare sien ’n mens al vroeg in Januarie mielies wat begin saad maak en sonneblomme wat menshoog staan.

Goeie reënval is sedert November aangeteken en tot soveel as 200 mm het in Desember op plekke in die Vrystaat geval.

Hierdie vroeë goeie reëns beteken nou dat die meeste Vrystaatse damme reeds in die tweede week van die jaar begin oorloop het.

Die Vaaldam is nou die Vrystaatse dam wat op 72% die laagste watervlak het.

Allemanskraaldam, naby Ventersburg, se watervlak het binne ’n week van 55% tot 105% gespring, terwyl die Erfenisdam, by Theunissen, ook begin oorloop het nadat dit verlede week op 85% was.

Die waterval by Swalukrans buite Virginia.Foto: Alet van der Walt
Die Erfenisdam het Saterdagoggend begin oorloop.Foto: Verskaf
Die Gariepdam is meer as 100% vol en sy sluise is oopgemaak. Foto: Willem Botha

Die Bloemhofdam loop reeds sedert verlede week oor en die Krugersdriftdam, in die Modderrivier, staan op 111%.

Ferdi Wilken sê op Facebook Bloemfontein het van Oktober tot op datum 472 mm reën gekry.

Die Meulspruitdam, in die Meulspruit, is ook vol.

Gavin Boy sê die Meulspruit loop in die Caledonrivier in, wat nou ook baie water inkry.

Die Caledonrivier is die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho.

Die Tierpoortdam, suid van Bloemfontein, is ook heelwat voller as voorheen. Michele Ferreira sê die dam het 70% water in en dat die Tierpoortrivier baie sterk loop. Die Tierpoortdam was ’n hele paar jaar lank leeg.

By Swalukrans, buite Virginia, is die bekende Swalukrans-waterval ’n gewilde aantreklikheid.

* Inwoners het die naweek na damme in die provinsie gestroom en foto’s van die sluise wat oopgetrek is en water wat oor damwalle vloei, is wyd op sosiale media gedeel.

Mense wat Sondag by die Gariepdam was, is egter deur die polisie verhinder om by die damwal stil te hou.

Polisielede by die dam het glo mense weggewys en mense uit die Oos-Kaap is verhinder om verby die wal te ry en is aangesê om terug te draai.

Volgens een teleurgestelde besoeker is daar gesê dit is ’n opdrag van die president.

Kol Thandi Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê mense het die inperkingsregulasies oortree en was arrogant teenoor die polisie. Sy sê mense het in groot groepe byeengekom en nie maskers gedra nie en by die rivier gebraai. Van die mense het dit ontken en gesê hulle wou net stilhou om na die water te kyk maar is deur die polisie gekeer.

Die Allemanskraaldam naby Ventersburg loop oor.Foto: Verskaf

Damvlakke in die Vrystaat:

Allemanskraaldam 106%

Bloemhofdam 107%

Erfenisdam 100%

Gariepdam 105%

Koppiesdam 110%

Krugersdrift 111%

Meulspruitdam 100%

Sterkfontein 96%

Tierpoortdam 75%

Vanderkloofdam 90%

Meer oor:  Vrystaat  |  Damvlakke  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.