Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Teel van leeus vir beendere kan SA duur kos’

Die inkomste wat geblikte leeus skep, is nie genoeg om op te maak vir die skade wat dit Suid-Afrika se beeld onder toeriste berokken nie.

As leeutelery in gevangenskap voortduur, kan dit die land in die volgende dekade tot R54 miljard kos, sê Ross Harvey van die Suid-Afrikaanse Instituut van Internasionale Aangeleenthede (SAIIA) in stukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het hom as kenner ingespan in sy hof­aansoek om die staat te dwing om sy uitvoerkwota vir leeubeendere te skrap.

Die NDBV het reeds twee hofaansoeke ingedien teen die departement van omgewingsake se uitvoerkwota. In Junie 2017 is ’n uitvoerkwota van 800 skelette per jaar aangekondig. Vanjaar is dit tot 1 500 verhoog.

Die Suid-Afrikaanse Roofdiervereniging (Sapa) staan die saak teen. Sy lede teel leeus vir die uitvoer van skelette na Suidoos-Asië.

Karen Trendler van die NDBV het gesê die partye se regspanne vergader op 5 November en hulle hoop die ander partye sal toestem tot ’n “zero-kwota”. As hulle nie ’n ooreenkoms bereik nie, sal die saak aangehoor word.

Harvey sê die geblikte leeubedryf genereer “potensieel” R2,67 miljard per jaar. Dit is ’n fraksie (1,85%) van Suid-Afrika se totale toerismewaarde (sowat R144 miljard in 2016).

“Alternatiewe ekonomiese aktiwiteite sal dalk ook meer werkgeleenthede skep.”

Die NDBV sê in hofstukke die oorspronklike kwota van 800 is gou deur uitvoerders opgebruik. Nou sal 1 500 leeus geslag word om aan die vraag uit die Ooste te voldoen.

Die NDBV sê daar is geen wetgewing wat standaarde stel vir die aanhou van leeus “en die manier waarop hulle geslag word nie”.

Volgens die NDBV moet leeus wat vir hul trofeë gejag word, in ’n goeie toestand wees. Dit geld glo nie vir leeus wat geteel word vir hul beendere nie. “Daar is geen aansporing om die leeus in ’n goeie toestand te hou nie. Al wat vereis word, is ’n volwasse leeu se skelet.”

Sapa sê in sý hofstukke sy lede se inkomste is op die spel as die kwota afgeskaf word. Hy voer aan net ’n “paar individue” is skuldig aan “ongevraagde optrede” teenoor leeus.

“Die gemiddelde boere is nié skuldig aan mishandeling en verwaarlosing van hul diere nie.”

Meer oor:  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.