Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Teenstand gevra teen steenkoolmyn by Kruger

Die direkteurs van die Ngwenya Lodge buite die Krugerwildtuin doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om as belanghebbendes te registreer en ’n mynmaatskappy wat steenkool wil myn op die voorstoep van die Krugerwildtuin teen te staan.

Die direkteurs van die Ngwenya Lodge versoek Suid-Afrikaners in ’n brief wat gister wyd gesirkuleer is, om by dié stryd betrokke te raak en te help om die land se natuurlike erfenis te bewaar.

Manzolwandle Investments doen tans aansoek om steenkool oor ’n gebied van byna 18 000 ha te myn.

Die gebied grens aan die Krugerwildtuin en die Krokodilrivier en sluit verskeie natuurreservate en groot landbougrond in.

Marlothpark en die Mjejane-reservate gaan ook direk geraak word.

Die Ngwenya-direkteurs skryf die raad aanvaar dat mynbou sekere ekonomiese voordele inhou. “Ons moet egter die impak daarvan op die omgewing, veral op die Krugerwildtuin, daarteen (die ekonomiese voordele) opweeg.

“Die belange van die minderheid (die mynmaatskappy) moet dus opgeweeg word teen die belange van die baie (mense) wat die nasionale park besoek. Om nie eens te praat van die vernietigende impak wat (die myn) op die wild gaan hê nie.”

“Ons vra dus elke aandeel­houer (van Ngwenya), elke besoeker, gas en familielid om hul kommer oor die voorgestelde mynaansoek te dokumenteer deur as belanghebbende en geaffekteerde party by die konsultasiemaatskappy Singo, te registreer.

Ngwenya gee belanghebbendes riglyne en vra hulle om byvoorbeeld klem te lê op die vernietigende impak wat die myn op die natuurskoon, die geo­logiese formasies, die planteryk, die waterbronne, die lug, die lewensgehalte van die mense en die ekonomie gaan hê.

Rudzani Shonisani, konsultant van Singo, het gesê die maatskappy het reeds in die gebied geprospekteer, steenkool gekry en doen nou aansoek om ’n mynreg en ’n watergebruikslisensie.

Die myn het na verwagting ’n leeftyd van 30 jaar. Luidens die agtergrondsdokument lê die steenkool na aan die oppervlak.

As die mynreg deur die departement van minerale bronne goedgekeur word, sal dit ’n oopgroefmyn wees waaruit 20 miljoen ton steenkool na raming jaarliks gemyn sal word.

Die beoogde projek is 31 km van Malalane geleë.

Die konsultante erken dat geraas en lugbesoedeling ’n negatiewe impak op die omgewing sal hê.

Die sakekamer van Malalane en ’n organisasie met die naam Neccta hou op 27 Junie om 12:00 ’n openbare vergadering by die Kambaku-gholfklub in Komatipoort om die voorgestelde myn te bespreek.

Verskeie verteenwoordigers van organisasies, waaronder Mpumalanga-landbou, die Krugerwildtuin en die Krokodilrivier-besproeiingsraad, sal die gemeenskap toespreek.

’n Vergadering met die konsultante is vir 30 Junie beplan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.