Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Tegnologie ál meer in Kruger teen stropers ingespan
By dié gesamentlike beheersentrum word al hoe meer tegnologie ook ingespan teen stropers. Foto: Alet Joubert

Majoc is nie ’n ruskamp of ’n plek in die Krugerwildtuin wat toeriste sommer kan besoek nie.

Dit is waar die wildtuin se elektroniese hartklop vir die voortgesette stryd teen veral renosterstropers lê.

Die akroniem Majoc is kort vir Mission Area Joint Operations Centre en agter die hoë, donkergrys mure van ’n gebou waarop die naam Fox Hole pryk, het die media Woensdag ’n blik gekry op twee tegnologie gedrewe teenstroper-projekte.

“Tegnologie sal veldwagters nooit vervang nie,” sê William Mabasa, Sanparke-woordvoerder. “Maar die wildtuin is bykans 2 miljoen ha groot. Om die grensdraad met 2 000 veldwagters te beman sal die hele ervaring van die wildtuin verander.”

Postcode Meerkat is in Suid-Afrika ontwikkel, werk met sonkrag en kan in ’n japtrap ontplooi word. Foto: Alet Joubert

Daarom word tegnologie soos die Postcode Meerkat ingespan. Netwerk24 het vroeër berig oor dié elektroniese toesigstelsel wat in Januarie in die wildtuin in werking gestel is.

Dit is ontwikkel deur die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), gebruik ’n radarstelsel van die Suid-Afrikaanse maatskappy Reutech, werk met sonkrag en kan opgevou en vinnig ontplooi word.

Die Meerkat tel die geringste beweging op. Dit word regstreeks na Majoc teruggestuur waar dit op ’n kaart vir ontleding uitgelê word.

Mark McGill, bestuurder van tegniese bedrywighede, wys ’n kort videogreep waarin drie vermeende stropers in die nag rondsluip.

“Die stropers het tot dusver die donker aan hul kant gehad, maar met Meerkat is daar nie wegkomkans nie,” sê hy.

Skielik is daar beweging aan die regterkant van die videoskerm. Dit is veldwagters wat vinnig naderhardloop en die drie baie verbaasde “besoekers” ontwapen en in hegtenis neem.

“Dié operasie is uit die beheerkamer gedryf. Meerkat het die verdagte bewegings deurgestuur en die veldwagters is van die beheerkamer af na die gebied gestuur.”

Om taktiese redes wil McGill nie sê presies hoeveel stropers sedert Januarie met behulp van Meerkat aangekeer is nie. “Maar ons sukseskoers is 90%. Onthou, die groot voordeel is dat ons stropers kan keer vóórdat ’n renoster gestroop word. Die hoofdoelwit is tog om soveel moontlik renosters te red.”

Die wildtuin hoop om teen 2019 drie Meerkatte in werking te hê.

Mark McGill, bestuurder van tegniese bedrywighede in die Krugerwildtuin. Foto: Alet Joubert
Tumelo Matjekane, bestuurder van Sanparke se spesiale projekte. Foto: Alet Joubert

Die aanslag van stropers is fel. Volgens die departement van omgewingsake was daar in 2016 altesaam 2 883 stroper verwante bedrywighede in die Krugerwildtuin – 16,9% meer as in 2015. Dit sluit in kontak met stropers, stroperkampe, -spore, -waarnemings en geweerskote.

Van die 1 054 renosters landwyd wat in 2016 gestroop is, was 662 in die Krugerwildtuin.

Een aspek wat die wildtuin hoop om met tegnologie vas te vat, is sogenaamde aflaai-stropers.

“Ons het gevalle waar stropers die wildtuin as besoekers binnekom. Hulle betaal vir hul permit, maar die passasiers word in die wildtuin afgelaai. Ons kom dit agter wanneer daar ’n stroopvoorval was, maar geen spore na of van ’n grensdraad nie,” sê Mabasa.

’n Nuwe elektroniese toegangsbeheerstelsel sal dié praktyk help bekamp.

“Vir die vyf suidelike hekke beloop die koste R8 miljoen. Dit behoort binne die volgende maand in bedryf te wees,” sê Tumelo Matjekane, projekbestuurder.

’n Besoeker se permit, voertuigregistrasienommer, lisensieskyf, aantal mense in die voertuig en lengte van verblyf word met die stelsel vasgelê.

“Voorheen het ons byvoorbeeld nie geweet of ’n besoeker moontlik met ’n gesteelde voertuig die wildtuin binnekom nie. Nou kan ons maklik afwykings vasstel, ook by die uitgang as vyf mense die park binnegekom het, maar net een is in die voertuig by die uitgangshek,” sê Matjekane.

Die toegangsbeheer word aangevul met snuffelhonde wat organiese materiaal en ammunisie kan uitsnuffel.

In 2016 is 680 renosterstropers en -horingsmokkelaars landwyd in hegtenis geneem. Hiervan was 417 na bewering by voorvalle in die Krugerwildtuin betrokke. In dieselfde tyd is beslag gelê op 148 vuurwapens binne en ses net buite die wildtuin.

“Daar is nie ’n grensdraad op aarde wat ’n stroper kan uithou nie, maar die tegnologie is deel van ons gereedskap in die stryd teen die misdaad,” sê Mabasa.

Meer oor:  Wnnr  |  Sanparke  |  Krugerwildtuin  |  Tegnologie  |  Stropers  |  Renosters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.