Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Tegnologie help weinig teen stropers

Die Krugerwildtuin het die afgelope dekade nagenoeg R1 miljard nét op die beskerming van renosters uitgegee, maar steeds word gemiddeld omtrent 10% van die wildtuin se renosterbevolking elke jaar deur stropers uitgewis.

“Geen omheining op aarde gaan ’n stroper keer nie,” sê Wil­liam Mabasa, Sanparke se waarnemende woordvoerder, die afgelope week. En dit blyk die peperduur tegnologie wat deesdae ingespan word, het beperkinge.

Hommeltuie, wat die afgelope jaar teen ’n allemintige R6 miljoen in die wildtuin getoets is, kon nooit ingespan word om ’n enkele stroper vas te trek nie, sê Mabasa.

Volgens Nicholas Funda, hoofveldwagter in die wildtuin, is infrarooi sensors, wat liggaamstemperatuur gebruik om mense in die nag te “sien”, nutteloos omdat sommige bome en miershope dieselfde temperatuur as mense het.

Mark McGill, die wildtuin se bestuurder van tegniese dienste, sê hulle hoop om meer sukses te hê met hul nuwe radarstelsel van R13 miljoen, die Pre­code Meerkat.

McGill sê sedert die Meerkat in Desember in gebruik geneem is, het dit ’n 90%-sukseskoers gehad om stropers te help vastrek. Teen 2019 wil hulle nog drie aanskaf.

Maar Funda en Mabasa is dit eens dat geen tegnologie mense kan vervang nie. Dis dúúr om renosterstropery te beveg. Die wildtuin het sowat 500 veldwagters met ’n salarisrekening van R200 miljoen.

Volgens Funda het hulle ’n skenking van R250 miljoen vir teenstroping ontvang, en 80% daarvan is bestee aan tegnologie, infrastruktuur, helikopters en viertrekvoertuie vir die veldwagters.

Hulle het geen keuse as om te belê in radarstelsels nie, want “misdadigers besit die nag”.

Ondanks al dié beleggings sukkel veldwagters, die polisie en Sanparke se ondersoekers om by al die tonele van gestroopte renosterkarkasse uit te kom.

Teen Vrydagoggend was daar ’n agterstand van 16 karkasse op verskeie tonele in die wildtuin, waarvan sommige tussen twee weke en ’n paar dae oud kan wees. Dis onduidelik of almal wel gestroop is.

“Die bos is ruig en ons sien soms eers ’n paar dae nadat ’n renoster dood is hoe die aasvoëls daarop toesak,” sê Frik Rossouw, ’n senior omgewingsmisdaadondersoeker van Sanparke.

Veldwagters het onlangs op twee renosters se beendere naby die Letaba-ruskamp afgekom wat vermoedelik twee jaar gelede al gestroop is.

Daarby sê Glenn Phillips, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, dis ’n bron van “groot frustrasie” dat stropers voortdurend in hegtenis geneem word, maar sindikaatbase nie uitgerook word nie. Ook die oënskynlike versuim van wetstoepassers om verskillende sake met mekaar te verbind, belemmer die stryd teen stropery.

“Majoc (die wildtuin se sentrum vir gesamentlike operasies) probeer dié probleem aanpak, maar ons is beperk tot die park.”

Majoc deel wel inligting met ander parke waar renosters loop.

Die wildtuin installeer nou nuwe toegangsbeheerstelsels van R8 miljoen by die suidelike hekke. “Ons hekke is ’n swak punt,” sê Funda. “Vier stropers kom in, drie word afgelaai en een ry uit. Die nuwe stelsel gaan dit help keer.”

Johan de Beer, bestuurder van die wildtuin se honde-eenheid, sê dit kos van R35 000 tot R50 000 om ’n opgeleide snuffel- of spoorsnyhond te koop en ’n bykomende R30 000 om ’n veldwagter as hondehanteerder op te lei.

Mabasa sê hy is onseker hoeveel die belastingbetaler bydra, maar die meeste geld kom van Sanparke se inkomste en skenkings.

Meer oor:  Sanparke  |  Krugerwildtuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.