Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Toekoms van koperhaaie onseker in Kleinbaai

Die haaikykbedryf van Kleinbaai is die afgelope ruk onder druk weens die optrede van haaivangers wat koperhaaie teiken.

Vissermanne vang haaie.

Verlede Woensdag was haaikykgeesdriftiges verbyster oor die optrede van vissermanne wat koperhaaie in dieselfde gebied gevang en doodgemaak het.

Die haaie, ook bekend as bronshaaie, bied uitstekende kyk-geleenthede vir toeriste, veral as die grootwithaaie van die omgewing weens ’n verskeidenheid redes nie opgemerk word nie.

“Die teenwoordigheid van die bronshaaie verseker dat die haaikyktoerismebedryf volhoubaar is en goeie geleenthede vir toeriste, ook uit die buiteland, bied omdat bronshaaie nie ’n beskermde spesie is nie,” het die Great White Shark Protection Foundation (GWSPF), ’n gesamentlike groep van toeriste-operateurs, bewaringskundiges en haaiwetenskaplikes van Kleinbaai, gesê.

“Die potensiële konflik tussen die toerismebedryf en die kommersiële en haaivangbedryf vir ontspanningsvissers kan die doodsklok vir die haaikykbedryf lui.”

In ’n proaktiewe stap om konflik te vermy, het GWSPF Barbara Creecy, minister van landbou, bosbou en visserye, reeds in Augustus verlede jaar genader en voorgestel dat ’n klein eksklusiewe sone vir die vang van bronshaaie geskep moet word om die haaikykbedryf te beskerm.

Sy het toe aangedui dat sy haar department sal opdrag gee om ’n vergadering met alle rolspelers te reël om die kwessie te bespreek.

Vissermanne vang in 2018 vis in ’n haaibesigtigingsgebied.

Haaikykoperateurs het gehoop dat daar op so ’n byeenkoms ’n kompromisvoorstel saamgestel kan word, maar die vergadering het tot vandag nog nie plaasgevind nie.

In Oktober 2018 was haaikykoperateurs ontsteld toe ’n visserman ’n bronshaai van meer as 100 kg ten aanskoue van hulle gevang en doodgemaak het, langs die plek waar hulle haaie besigtig het.

Dit was een van vier bronshaaie wat daardie oggend doodgemaak is. Omdat die departement geen plan gemaak het om te help dat die hele haaikykbedryf van Kleinbaai in duie stort nie, het operateurs saamgestaan en haaivangers betaal om nie in daardie gebied haaie, en spesifiek die bronshaaie, te vang nie.

“Tot soveel as R900 000 is oor die afgelope drie jaar aan haaivangers betaal om die gebied waar haaikyk-aktiwiteite plaasvind te vermy,” sê Wilfred Chivell, direkteur van die Dyer Island Conservation Trust (DICT).

“Ons besef dat vissermanne bronshaaie wettig mag vang, maar die klein verlies aan inkomste wat hulle dalk mag ly om elders bronshaai te vang as in die gebied waar haaikykoperateurs aktief is, is niks in vergelyking met die potensiële verlies aan ’n totale ekotoerismebedryf nie.

Chivell sê as die kommersiële vang van die haaie in hierdie klein en spesifieke gebied voortgaan, sal dit lei tot maatskappye wat hul deure sal moet sluit en mense wat hul werk gaan verloor.

Die kommersiële haaivissermanne sê dat langlyn-visvangaktiwiteite langs die Suid-Afrikaanse kus die haai-bevolking uitdun en so hul vangste en inkomste nadelig beïnvloed. Die haaikykoperateurs stem hiermee saam.

Die regering spandeer miljoene rande op Operasie Phakisa om die oseaan-ekonomie te ontwikkel.

“In Gansbaai bied die haaikykbedryf regstreeks werk aan meer as 250 mense en ondersteun meer as 1 600 afhanklikes.

“Daar is nege operateurs in die gebied en ons kry jaarliks meer as 85 000 toeriste. Ons maatskappye belê miljoene rande in infrastruktuur en bemarking wat die hele toerismebedryf in die Wes-Kaap bevoordeel.

“Ons weet dat reisigers besluit waar om te bly gegrond op die aktiwiteite wat in die gebied beskikbaar is. Haaihokduik is een van hierdie sleutelaktiwiteite,” sê Chivell.

“Die regering spandeer miljoene rande op Operasie Phakisa om die oseaan-ekonomie te ontwikkel. Haaihokduik en viskykuitstappies op bote is albei bedrywe wat niks uit die omgewing neem nie.

“Dit is hartseer om te dink dat ons ’n miljardrandbedryf, wat ’n massiewe rol speel in werkverskaffing en ontwikkeling in ’n klein kusdorpie, moet opoffer vir ’n skamele R20 000 wat haaivangers sal verdien.

“Ons wil hê dat die minister ’n nood-uitsluitingsone moet skep voordat die vergadering met rolspelers gehou word sodat enige verdere verliese gekeer kan word,” is Chivell se mening.

Meer oor:  Toerisme  |  Ekologie  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.