Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Transnet stort glo vlambare materiaal op munisipale terrein

Transnet kan ingevolge wetgewing met R10 miljoen beboet word nadat vlambare materiaal Dinsdag glo sonder die vereiste magtiging op die munisipale stortingsterrein in Kimberley gestort is.

Dit kom nadat Netwerk24 op ’n wenk gereageer en ondersoek na die storting ingestel het.

Transnet het Dinsdag vlambare materiaal op Kimberley se stortingsterrein gestort, maar dit daarna weer verwyder. Foto: Charné Kemp

Werkers in Transnet- en munisipale oorpakke was vroegoggend besig om ’n vrag op die stortingsterrein af te laai. Nadat navraag gedoen is, is dit later van die terrein verwyder.

Die materiaal is volgens ’n ingeligte vlambaar.

Volgens ’n kenner in die hantering en vernietiging van afval, is die storting van vlambare materiaal (ook reaktiewe materiaal genoem) op stortingsterreine ingevolge die Wet op Omgewingsbestuur en Afvalbestuur verbode.

“Die afval moet vooraf geassesseer word, indien dit vir storting op ’n stortingsterrein oorweeg word. Maar sedert Augustus 2018 mag gevaarlike materiaal nie saam met algemene en huishoudelike afval op stortingsterreine gestort word nie.

“Iemand wat die wet oortree, kan ingevolge die wetgewing tot R10 miljoen beboet word of tien jaar gevangenisstraf opgelê word, of albei.”

Mike Asefovitz, Transnet-woordvoerder, sê die materiaal is dadelik van die stortingsterrein verwyder.

“Die storting het gebeur nadat een van ons personeellede sonder formele magtiging of die kennis van sy bestuurder opgetree het.

Nadat Transnet en die munisipaliteit in Kimberley in kennis gestel is, het Transnet die vlambare materiaal wat afgelaai is, weer verwyder. Foto: Charné Kemp
Die vlambare materiaal wat na bewering vir swyswerk gebruik word, verval glo na drie jaar. Foto: Charné Kemp

“Nadat ons daarvan in kennis gestel is, is die materiaal opgelaai en na die depot teruggeneem om op die korrekte wyse vernietig te word. Dit sal na die vervaardiger teruggeneem word wat op die regte wyse daarvan ontslae sal raak.

“Transnet het beleide oor die korrekte maniere om van afvalmateriaal ontslae te raak.

“Die materiaal is nie gevaarlik nie. Dit bestaan uit verskillende elemente wat grootliks ysteroksied en aluminium bevat. Dit is basies sand en steen wat uiterste hitte vereis voordat dit aan die brand slaan.”

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê hulle het met Transnet oor die kwessie vergader.

“Hulle het ingestem om die materiaal van die stortingsterrein te verwyder.”

Meer oor:  Transnet  |  Kimberley  |  Stortingsterrein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.