Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Trop olifante binne 48 uur hervestig

’n Familie van vyf olifante wat vermoedelik uit ’n private reservaat in die omgewing van Hectorspruit naby­ die Krugerwildtuin gebreek het, is die naweek in ’n blitsige operasie na ’n veilige hawe geskuif.

Dereck Milburn, ’n omgewingsbewaarder, het Donderdag gesê dié “massiewe operasie” moes baie vinnig plaasvind omdat die olifante se lewe in gevaar was.

Die olifante kom by hul nuwe tuiste aan. Die hervestigingsoperasie is die naweek afgehandel.

Milburn, wat saam met die nuwe nieregeringsorganisasie Wildlife Emergency Fund (WEF) werk, sê hy was bekommerd dat die trop doodgeskiet sou moes word omdat hulle moontlik ’n gevaar vir mense kon inhou.

Die vyf olifante het op plase rondgedwaal en oor ’n paar besige paaie geloop wat ’n groot gevaar geskep het dat voertuie teen hulle sou bots.

Milburn sê kundiges op die gebied van olifanthervestiging het baie vinnig op sy oproepe gereageer en was gou gereed om met die operasie te begin.

Twee veeartse, dr. Peter Rogers van Provet Wildlife Services en dr. Dave Cooper van African Wildlife Vets, asook Kester Vickery, ’n kundige op die gebied van olifanther­vestiging, en sy span was gou op die toneel. Jana Meyer, ’n helikoptervlieënier, het ook haar hulp aangebied.

Meyer het die trop vanuit die lug bymekaar gejaag en veeartse het hulle vanuit die lug met doofpyle geskiet.

Dereck Milburn (links) en Juan Strauss, ’n be­stuurder van die natuurreservaat wat die olifante se nuwe tuiste is, help met die af­laai van een van die diere wat nog onder verdowing is. Foto: LIZETTE LE ROUX

Milburn sê die olifante is op vragmotors gelaai en op ’n reservaat sowat 8 km van daar vrygelaat.

Die olifante se nuwe woonplek word deur die Strauss-familie en die Eco Ranger-groep bestuur.

Dié groepe het hulself daartoe verbind om na die welsyn van die olifantfamilie om te sien en te sorg dat hulle veilig bly.

Milburn sê die Mpumalanga-toerisme-en-parkagentskap (MTPA) het die operasie ondersteun.

Hy sê hy is dankbaar dat die MTPA ook onderneem het om na die welsyn van die vyf olifante om te sien.

Andrew Malcolm, ’n Amerikaner en een van die finansiers van die projek, sê hy is baie verlig dat die operasie suksesvol afgeloop het.

Hy het die span gelukgewens dat hulle die olifante binne 48 uur kon hervestig.

Die operasie bewys daar is maniere om olifante te hervestig, pleks daarvan om hulle bloot dood te skiet wanneer hulle uit reservate breek, sê Malcolm.

Milburn sê die olifante se veiligheid en welsyn is vir almal betrokke nou ’n prioriteit en hulle sal noukeurig dopgehou word.

Hy sê die gebied waar hulle nou gehuisves word, sal later – wanneer naburige reservate hul heinings laat val – sowat 8 000 ha groot wees.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.