Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Twee krisisse bedreig aarde’

Klimaatsverandering en biodiversiteitsverlies is twee van die grootste uitdagings van die Antroposeen-epog.

“Dié twee krisisse wat die mensdom in die gesig staar, is so met mekaar vervleg dat hulle saam aangepak moet word.”

So het dr. Hans Pörtner, klimatoloog en medevoorsitter van die Interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) se werkgroep 2, gister op ’n virtuele bekendstelling van die verslag “Biodiversity and Climate Change” gesê.

“Antroposeen” verwys na die verwoestende en oorweldigende uitwerking van die mens op die aarde en aardstelsels.

Die verslag is opgedra aan die klimatoloog prof. Bob Scholes, destyds aan die Universiteit van die Witwatersrand, wat saam met Pörtner medevoorsitter was van ’n werkgroep van die IPCC. Scholes is einde April in Namibië aan ’n hartaanval dood.

Hy was ook een van die opstellers van hierdie verslag oor biodiversiteit en klimaatsverandering.

Ons moet onmiddellik ophou om gas, olie en steenkool te verbrand.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat klimaats- en omgewingswetenskaplikes van die IPCC en bioloë, dier-en plantkundiges en ekoloë van die Interregeringspaneel oor biodiversiteit en ekostelseldienste (Ipbes) saam ’n verslag gepubliseer het.

Pörtner het die verhouding tussen klimaatsverandering en biodiversiteitsverlies as “kompleks” beskryf. Dié twee krisisse saam hou nie net die grootste bedreiging vir menslike welstand in nie, maar ook vir die mens se voortbestaan.

Hy benadruk klimaatsverandering vererger biodiversiteitsverlies. Op sy beurt vuur biodiversiteitsverlies klimaatsverandering aan.

Hy wys daarop dat spesies oor die wêreld heen besig is om te migreer. Dít is veral duidelik onder plante omdat hulle “nie kan byhou by klimaatskommelinge nie”.

Spesies wat nie kan migreer nie en dus uitwissing in die gesig staar, is veral koraalriwwe en dié op eilande, koue bergpieke en kusgebiede.

Volgens hom is daar verskeie oplossings vir die herstel van die aarde en die biosfeer, maar dit moet begin by die manier waarop die mensdom energie opwek.

“Ons moet onmiddellik ophou om gas, olie en steenkool te verbrand,” sê hy.

Luidens die verslag het die mensdom en die aarde die afgelope 150 jaar in die moeilikheid begin beland met sy toenemende energieverbruik, die oorbenutting van natuurlike hulpbronne en die verandering van landskappe, vars water en die oseaan.

Terselfdertyd het tegnologie teen ’n geweldige spoed vooruitgegaan. Hoewel dié vooruitgang baie mense se lewensgehalte verbeter het, het tegnologie ’n negatiewe voet-spoor gelaat.

“ ’n Volhoubare gemeenskap het sowel ’n stabiele klimaat as gesonde ekostelsels nodig. Die mens het sedert 1870 sowat 77% van die aarde se landoppervlak (Antarktika uitgesluit) en 87% van die oseaan­ met sy aktiwiteite verander. Dié verandering het meegebring dat 83% van wilde diere se biomassa en die helfte van alle plante uitgewis is.

“Vee en mense maak nou 96% van die biomassa op aarde uit.”

Luidens die verslag moet ’n nuwe bewaringsbewussyn by die mens geskep word. Dit beteken dat mense, selfs stedelinge, met die natuur sal moet saamleef. Migrasieroetes vir wild moet dringend wêreldwyd geskep word, lui die verslag.

Minstens 30% tot 50% van die aarde (land én oseaan) moet vir bewaring opsy gesit word. Terselfdertyd moet woude, vleie en veenlande herstel word.

Volgens prof. Pamela McElwee­ van die Rutgers-Universiteit in New Jersey is een van die grootste frustrasies van wetenskaplikes dat staatsdepartemente van die meeste lande ter wêreld in hul eie ivoortorings werk.

“Die ministers van omgewingsake praat byvoorbeeld nie met dié van landbou of mynbou nie.”

Sy sê dié mentaliteit moet dringend verander.

Kassie: Wat die verslag nog sê:

¦ Landbou en voedselproduksie is verantwoordelik vir tot 37% van antropogeniese kweekhuisgasse. Landbou sal dringend hersien moet word, sodat grond vrygestel kan word vir die herstel van biodiversiteit.

¦ Stede moet vergroen word met meer parke, groentetuine en groen dakke. Die vergroening van stede sal hierdie “eilande van verhitting” versag en biodiversiteit stimuleer.

¦ Die gebruik van inheemse volkere se kennis moet aan die kern van die meeste besluite oor biodiversiteitsherstel staan.

¦ Damme en die bou van mure om verhoogde seevlakke van kusgebiede weg te hou, lei tot spesieverlies. Tegnieke soos “slim” besproeiingsmetodes kan die bou van nog damme moontlik oorbodig maak.

¦ Menslike verbruik “in alle opsigte” moet verander. Die mens se dieet, is die eerste wat aangepas sal moet word. Die belangrikste hiervan is die vermindering in verbruik van rooivleis en melkprodukte. Die vermorsing van kos moet heeltemal uitgeskakel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.