Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Uil Simba nou ’n ware ‘Mufasa’ ná redding

Net meer as ’n maand nadat die uilkuiken uit die graf opgestaan het, sit hy nou kordaat met skrefies-oë en wag vir die son om te sak; daar is ’n veld vol muise daar buite wat wag.

Die nonnetjiesuil wat aan die begin van Julie as ’n karkas in ’n asblik gevind is, het van “Simba”, soos hy destyds gedoop is, in ’n “Mufasa” ontpop, sê Brendan Murray van die Owl Rescue Centre in Hartbeespoort, Noordwes.

Hy moes destyds uilkuikens, omtrent ses weke oud, gaan red wat uit ’n nes by ’n woonhuis geval het.

Die klein en koulike “karkas” net voordat dit begrawe sou word - en weer lewend geword het. Foto: Owl Rescue Centre

Een was reeds “dood” toe die huiseienaars die kuikens vind, en hulle het die koue bondeltjie been-en-dons weggegooi.

Murray het gevra vir die karkas, want by die sentrum begrawe hulle maar altyd die dooie uile as ’n laaste eerbetoon.

Terug by die sentrum, op die punt om in ’n doodskleed uit handdoek toegedraai te word, het die kuiken egter die delikaatste skoppie gegee, wat Murray laat besef het daar is nog ’n sweempie asem in hom.

Met die woorde “He’s alive!”, soos in die The Lion King-fliek, het Murray noodbehandeling toegepas – vandaar die naam Simba.

Simba enkele dae nadat Brendan Murray van die Owl Rescue Centre hom vanuit die dood help terugkeer het. Foto: Owl Rescue Centre

’n Paar weke later met ’n wonderwerk, baie geduld en oorlewingsdrang, is die uiltjie op die punt om sy vlerke die wye wêreld in te sprei, weliswaar so bietjie later as die ander wat saam hom gered is, maar, skerm Murray teer, Simba was immers ’n “late bloomer”.

“Nou is hy ’n Mufasa – hoewel nog ’n bietjie verslons. Dit was net daardie eerste aand/dag wat hy gesukkel het, maar ná daardie ‘kick-start’ het hy oor die eerste hekkie gekom.

“Nou bly hy in ’n loslatingshut waar hy kan kom en gaan soos hy wil,” sê Murray.

Simba, nou ook bekend as Mufasa the Mircale, boy sit regs in sy loslatingshut en wag vir jag- en speeltyd. Foto: Owl Rescue Centre

Die hut is 2 m hoog en daar bly ’n paar uile in.

Die deur is oop, so hulle gaan vlieg en speel in die aand en kom dan terug. Dit sal so gaan vir ’n paar weke, totdat Simba reg is om óf ander blyplek verder weg te gaan soek, óf in een van die uilhuise op die perseel in te trek.

“Ons gee vir die uile ‘ondersteuningskos’ by die loslatingshut. Hulle kry dagoud-kuikens. Uile verkies egter muise, so hulle begin om self kos te gaan soek,” sê Murray.

Die loslatingshut waarin die gerehabiliteerde uile bly totdat hulle self besluit om hul vlerke verder te sprei. Foto: Owl Rescue Centre

In uilterme is Simba volgroeid – ’n volle 38 cm. En hoewel Murray goedig terg dat hy nog so ’n bietjie “scruffy” lyk, sit die uil met sy skouers fier teruggetrek op sy tak, vlerke soos ’n manel om die ligter borskas gevou.

Die doodse weerloosheid van ’n paar weke gelede is weg.

Hy is nou, soos ondersteuners van die Owl Rescue Centre hom gedoop het: Mufasa the Miracle boy.

Meer oor:  Mufasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.